Die wynbedryf oor die wêreld heen word deur klimaatsverandering bedreig, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

Uit navorsing wat verlede week gepubliseer is, blyk dit dat wynstreke oral gebuk gaan onder “toenemende hitte en buitensporige droogtes”.

Dié wetenskaplikes het bevind die uitwerking van weerstoestande op wynstreke is veral te sien aan kusdorpe in Spanje, Italië, Griekeland en Kalifornië. Dié streke is die tuiste van die wêreld se meeste tradisionele wynprodusente.

Die navorsers het bevind sowat 90% van dié streke kan teen die einde van die eeu weens droogtes en hittegolwe “verdwyn”.

Vir wynproduksie is ’n gebied se temperatuur, reënval, humiditeit, sonstraling en koolstofdioksiedvlakke van kardinale belang. Dit beïnvloed onder meer die pH-vlakke, suikerinhoud en suurheid van die druiwe.

Die navorsers het oor die algemeen ’n “wesenlike risiko (matig tot hoog) vir ongeskiktheid” in 49% tot 70% van die bestaande wynstreke geïdentifiseer.

Die Wes- en Oos-Kaap is albei geïdentifiseer as streke wat ’n wesenlike risiko loop om onvolhoubaar te word vir wynproduksie, terwyl albei gebiede tans baie produktief benut word.

Die navorsers het daarop gewys dat hul vertroue in dié spesifieke bevindings laag is weens beperkte navorsing. Dit het byvoorbeeld gefokus op Amerika, Europa en die Suidsee-eilande.

Dr. Etienne Terblanche, ’n konsultasiediensbestuurder by Vinpro, sê in die Noordelike Halfrond word wynproduserende gebiede meestal geraak deur ryp in die lente. Wat Suid-Afrika betref, is die uitwerking van klimaatsverandering nog nie duidelik nie.

“Sommige streke ervaar warmer weer, terwyl ander kouer is. Die grootste uitwerking blyk weens kouer temperature as gewoonlik te wees.

“Uit ’n wingerdbou-oogpunt is dit belangrik om te noem dat kultivars en wynstyl bepaal word volgens die streek se temperature.

“Daar is ’n algemene wanindruk dat die uitwerking op alle streke dieselfde is. Die wynbedryf het egter diverse verbouingstreke en die Wes-Kaap het ’n unieke topografie. Daarom sal die potensiële invloed van klimaatsverandering noemenswaardig van streek tot streek verskil.”

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is egter proaktief en is reeds besig met navorsing om die moontlike risiko’s die hoof te bied.

Gerard Martin, South Africa Wine (SA Wine) se hoof van navorsing en vernuwing, sê die bedryf neem klimaatsverandering baie ernstig op.

“Dít is duidelik wanneer ’n mens sien hoeveel ons oor die laaste paar jaar in navorsing en vernuwing belê het. Klimaatsverandering is ’n vlagskip-navorsingsprogram. Ons vlagskip-programme is grootskaals, strategies en baie ambisieus.

“Dit is ontwerp om die uitdagings in die lang termyn te oorkom en baie geld word daaraan bestee,” sê hy.

Terblanche meen omdat Suid-Afrikaners oopkop is en die bedryf nie gereguleer word (soos in Europa) nie, kan wynprodusente nuwe variëteite, tegnieke en stelsels verken.

“Suid-Afrikaanse wynprodusente is veerkragtig.”

Volgens Martin bestaan reeds verskeie projekte wat daarop gemik is om die volhoubaarheid van wynbou in die land te verseker.

“Ons is besig om die droogteverdraagsaamheid van spesifieke kultivars te assesseer en kultivars wat droogtes kan oorleef, maar nog nie baie in die land gebruik word nie, is ook geïdentifiseer. Daar is egter nog nie wetenskaplike data oor dié kultivars se groei, oesgrootte en gehalte in plaaslike weerstoestande nie.

“Daar is ook ’n studie saam met die Universiteit Stellenbosch om te bepaal hoe aanpasbaar en veerkragtig kultivars is wat tans kommersieel gekweek word. Op die ou einde moet ons druiwe van gehalte oes met min water.”

Terblanche sê Vinpro het ’n “Gen Z”-wingerdprojek begin om te eksperimenteer met variante, wortels, wingerdstokke en dies meer.

“Ons eksperimenteer op kommersiële plase in elke wynstreek om ’n poel plaaslike kennis saam te stel. Die projek word op ’n ‘sien is glo’-basis aangepak en data word gereeld bygewerk vir produsente om te volg,” sê Terblanche.

Hy sê die wynmaker Sakkie Mouton het van die druiwe wat deur die eksperimente opgelewer is, opgeraap en die publiek kan nou wyne koop wat met droogteverdraagsame druiwe vanuit die Mediterreense streek gemaak is. Dit sluit in Assyrtiko (Griekeland) en Vermentino (Korsika).. Ruhan Friedrichs is ’n Netwerk24-beursjoernalis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article