Daar word behoorlik gewerskaf op die plaas; selfs die honde hardloop opgewonde rond om die gaste te verwelkom en die personeel “by te staan”.
Gabriëlskloof, die wynlandgoed by Botrivier langs die N2, is nie net bekend vir sy goeie wyne en olyfolie nie, maar ook die restaurant Farro wat deur die egpaar Alex en Eloise Windebank bestuur word – Alex is die sjef, terwyl sy vrou, Eloise, die gaste tevrede hou.
Die restaurant het onlangs sy nuwe spyskaart bekendgestel en pronk met geregte wat met herfs geassosieer kan word. “Ons konsentreer op dieper geure, wat met die verandering van die seisoen gepaardgaan – soos trooskos,” verduidelik Alex. Die nuwe spyskaart gee gaste ’n nostalgiese gevoel. “Ek het ou resepte uit my kinderdae met nuwe geure opgekikker en gebruik steeds my hoofbestanddele – botter, room en wyn –om ’n kinkel by die geregte te sit.” Smullekker geregte
Van die geregte wat jou keer op keer sal laat terugkom, is die voorgereg Cappelletti, wat uit tamatie en basil-pesto, parmesaan en balsamiese asyn bestaan. Die gerookte makriel, ook ’n voorgereg, met ingelegde komkommer, is ook ’n wenner. By die hoofgereg kan jy behoorlik kies en keur tussen risotto, pangebraaide geelstert, filette, varklies en burgers terwyl die nageregspyskaart selfs fynproewers vir nog sal laat vra.
Gabriëlskloof se wyne is alombekend en ná ’n toer deur die wingerde kom jy gou agter dat dit nie net oor wyn gaan nie, maar oor liefde vir die produk, die natuur en ook die werk.
Volgens die keldermeester, Peter-Allan Finlayson, het hulle twee sauvignon blanc-wyne bekendgestel – die Amphora Sauvignon Blanc en die Magdalena 2023. “Ons is baie opgewonde oor dié twee wyne. Ons het begin om met sauvignon blanc te eksperimenteer en ek wou altyd iets nuuts probeer, en ons probeerslag was toe suksesvol,” vertel Peter-Allan.
Vir die Magdalene het hulle sémillon van Franschhoek en die Swartland gebruik, wat met hul eie jong sémillon, wat hulle in 2006 geplant het, gekombineer is.
“Ons wil met ons wyne graag nie net hoëgehalte wyne produseer nie, maar ook ’n wyn wat aan verbruikers verkoop kan word en ’n blywende indruk sal laat,” vertel Peter-Allan.
Die Amphora Sauvignon Blanc 2023 is in outentieke amfora, oftewel erdevase, gefermenteer. Die erdevase kom in verskillende groottes voor en laat die wyn “asem haal” terwyl dit verouder.
“Die smaak is uniek en ons het met die Amphora Sauvignon Blanc 2023 die grense verskuif – dit is glad nie wat jy verwag nie, en die sauvignon blanc is ’n splinternuwe ervaring,” het Peter-Allan gesê.
Gabriëlskloof is meer as net ’n wynkelder – dis ’n ondervinding wat jou keer op keer na hulle sal terugneem. . Skakel 028 284 9865 of besoek www.gabrielskloof.co.za vir nog inligting.





