Die Thamnus-wynlandgoed het weer eens gewys waarom hy ‘n weggesteekte juweel in die Overberg is.
Tydens die Decanter World-wyntoekennings, een van die grootste kompetisies in die wêreld en waar 17 000 wyne beoordeel is, het die Thamnus Chardonnay 2023 met 95 punte goud behaal. Verlede jaar het die 2022-weergawe 96 punte behaal. Volgens die organiseerders plaas ‘n telling van 95 of hoër die wyn in die boonste twee persent van die veld.
Thamnus is bekend vir sy chardonnay- en pinot noir-wyne, maar dit is die chardonnay wat die beoordelaars se aandag aangegryp het. Die beoordelaars se notas het gelui “ ’n Heerlike appel-suurlemoen- geur wat gepaardgaan met ‘n romerige heuningagtige tekstuur”.
Om vir twee jaar agtereenvolgens in die boonste twee persent wêreldwyd in jou veld geplaas te word, sit nie in almal se broek nie, maar volgens die Thamnus-span was dit ‘n spanpoging wat nie maklik gebreek kan word nie en wat tot dié merkwaardige prestasie gelei het. Die wynmaker P.J. Geyer sê die hele span was uit die veld geslaan toe hulle die aankondiging hoor: “ ’n Mens werk hard deur die jaar – in die wingerd en in die kelder – en om dan daardie soort erkenning op internasionale vlak te kry, beteken baie. Dit bevestig dat jy op die regte pad is en dat die harde werk raakgesien word. Vir ons is dit nie net ‘n prestasie vir Thamnus nie, maar ook iets besonders vir ons omgewing en almal wat deel is van die proses.”
Elke oesjaar anders
P.J. is al sewe jaar die wynmaker op Thamnus en vertel dat sy belangstelling in wynmaak van sy liefde vir die boerdery en die natuur gekom het. “Ek geniet dit om met iets te werk wat so nou aan die grond, die klimaat en die seisoen gekoppel is. Wynmaak is vir my ‘n mooi kombinasie van landbou, geduld en kreatiwiteit. Elke oesjaar is anders, elke blok druiwe het sy eie karakter en dit hou die werk interessant en uitdagend. Dis juis daardie proses om iets uit die natuur te neem en dit in ‘n wyn met sy eie identiteit om te skep, wat my so aantrek.”
Hy vertel dat die Hemel-en-Aarde-ge-bied ideaal is om met wyndruiwe te boer. “Die klimaat, die invloed van die see en die grondsoort speel alles ‘n groot rol in hoe die druiwe ontwikkel. Dit help dat die druiwe mooi kan ryp word, maar steeds varsheid, balans en goeie natuurlike suur behou. Ek dink ons omgewing gee vir die wyne ‘n sekere elegansie en karakter, wat baie spesiaal is. Dis een van daardie plekke waar die terroir regtig ‘n fris rol speel in wat uiteindelik in die glas beland.”
Mense net so belangrik soos die plek
Wat Thamnus se wyne volgens P.J. anders maak, is die kombinasie van terroir en mense. “Ons terroir, die grond, klimaat en maritieme-invloed gee ons druiwe ‘n unieke karakter en styl. Maar net so belangrik soos die plek, is die mense wat elke dag met die wingerd en die wyn werk. Van die werk in die wingerd tot die kelder is daar baie hande, ervaring en trots wat in elke bottel ingaan. Ons probeer nie die wyn oorwerk of iets maak wat hy nie is nie; ons wil hê hy moet eerlik wees en wys waar hy vandaan kom. Ek dink dis daardie kombinasie van plek, mense en aandag aan detail wat ons wyne hul eie identiteit gee.”
Thamnus, wat genoem is na die fynbosroos Orothamnus zeyheri, is gewis ‘n besoek werd en P.J. sê dit is ‘n ander wynproe-ervaring wat op jou wag as jy Thamnus besoek. “Om ons te besoek, is ‘n geleentheid om die plaas, die terroir en die mense agter die wyn te leer ken. Elke wyn het ‘n storie en daardie storie begin in die wingerd, in ons grond en klimaat, maar ook by die mense wat elke dag die werk doen en omgee oor die eindproduk. Ons is trots op wat ons hier doen en wanneer mense die plaas besoek, kry hulle iets om daardie karakter, passie en persoonlikheid eerstehands te beleef. Dit gaan nie net oor die wyn in die glas nie, maar oor die hele ervaring van die plaas en die mense daaragter.”


