Die gemeenskap van Botrivier het met skok en woede gereageer op berigte dat twee jong padwerkers verlede week deur vier mans aangeval en beroof is.
Die padwerkers is volgens berigte Vrydag 8 November omstreeks 02:00 deur vier verdagtes oorval wat na bewering met messe gewapen was en hul besittings, onder meer selfone, kos en ’n tweerigting-radio, gesteel het.
Rasaad Adams, ’n joernalis en inwoner van Botrivier, het die aanval skerp veroordeel en gesê: “Dis absoluut skokkend en laakbaar dat twee jong mans wat hierdie werksgeleentheid aangegryp het om op ’n eerbare wyse geld te verdien, aangeval en van hul besittings beroof is.”
Hy het bevestig dat een van die padwerkers ’n jong inwoner van Botrivier is en die ander een van Caledon. Die jong man van Caledon het volgens berigte oppervlakkige wonde aan sy kop opgedoen toe hy hom teen die aanvallers wou verdedig. Die jongmans is erg getraumatiseer ná die aanval.
Die wiele van die mobiele-eenheid wat deur die padwerkers gebruik word, is volgens berigte ook deur die aanvallers gesteel. Die vier aanvallers se gesigte was bedek, maar die vermoede bestaan dat hulle inwoners van Botrivier is.
“Botrivier is ’n baie klein en hegte gemeenskap. Ek wil ’n dringende beroep op die gemeenskap doen om nie gesteelde goedere te koop nie en na vore te kom met enige inligting wat daartoe sal lei dat die skuldiges vasgetrek word en die volle mag van die reg sal voel.”
Raadslid Mekie Plato-Mentoor het dit beaam en gesê: “Ons is oortuig die verdagtes is plaaslike inwoners, mense wat die gebied goed ken en geweet het dit is baie stil daardie tyd van die nag. Botrivier het ’n satelliet-polisiekantoor en wanneer die voertuie uit is, is die omgewing en die inwoners kwesbaar.”
Mentoor het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om nie gesteelde goedere te koop nie aangesien hulle sodoende ’n mark vir gesteelde goedere skep.
“Dit is hartseer dat die einste projek wat werk skep, deur misdadigers geteiken word.
“Misdaad in ons gebied het definitief toegeneem en mense wat gesteelde goedere koop dra daartoe by,” het sy beklemtoon.
AO Eduard Coetzee, ’n woordvoerder vir die Caledon-polisie, het bevestig die voorval word ondersoek.
“Speurders ondersoek die saak en is besig om verdere verklarings af te neem.
“Mense wat by die stop-en-ry-stelsel stilstaan, word versoek om hul deure gesluit te hou, enige waardevolle besittings buite sig te bêre en op hul hoede en waaksaam te wees,” het hy bygevoeg.





