Chris Albrecht, die wynmaker van Bouchard Finlayson-wynlandgoed.


Om in die een van die mooiste plekke in die wêreld te werk, jou passie uit te leef en saam met mense te werk wat soos een hegte familie voel, is vir Chris Albrecht, die wynmaker van die Bouchard Finlayson-wynlandgoed, die kersie op die koek.

“Vir my om by Bouchard te werk, is ’n bonus. Behalwe die feit dat die plaas en omgewing so geposisioneer is om wyne van wêreldgehalte te kan produseer, is ons ’n dinamiese en aangename span kollegas. Verder het die plaaslike gemeenskap van produsente grotendeels ’n samewerkende en ondersteunende uitkyk,” verduidelik Chris.

Chris, wat in die noordelike voorstede van Kaapstad grootgeword het, onthou sy kinderjare as besonders sorgvry. “Jy kon basies so ver gaan speel soos jy kon, solank jy net voor donker tuis is.”

As laerskoolkind het Chris nie veel van wyn geweet nie en dit was sy hoërskooljare by Boland Landbouskool waar hy aan wingerdverbouing blootgestel is. “En natuurlik genoegsame besoeke aan Stellenbosse proelokale as student – dit het ook my belangstelling in wynmakery geprikkel,” skerts hy.

Hy het sy kop op ’n blok gesit, besluit om wynmaker te word en geglo as dit is wat hy wil doen, wil hy dit goed doen. “Ek het ’n passie vir dit wat ek doen en besef dit is uiters belangrik in my bedryf. Seker my slegste eienskap – om nooit tevrede te wees nie – motiveer my om die beste produk daar te stel. Dit is ook vir my maklik om ’n passie te hê vir ’n produk waarin jy regtig glo,” sê hy. “Vir my is ’n tevrede en lojale ondersteunersbasis, wat jaarliks toeneem, een van my grootste prestasies, en as ek dit haal, is ek tevrede. Dit is ook seker waarom my motto in die lewe is – doen alles die eerste keer reg; dis meer doeltreffend oor die lang termyn”.

Chris is duidelik iemand van vele talente en hy skerts as hy nie ’n wynmaker of iets in die landbou geword het nie, sou hy graag ’n suksesvolle YouTuber wou word.

“Verder geniet ek dit om in die kombuis saam met familie en vriende, kos te maak – dis dan kuiertyd. Om kos te maak, is een van die mees basiese, dog potensieel genotvolle menslike behoeftes. Ek is ook baie lief vir die see en bring graag tyd by die see deur,” sluit hy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article