’n Verwoestende brand woed al sedert Vrydag in die Grabouw-omgewing en brandbestryders is steeds op die toneel om die vlamme in bedwang te bring.
Sondagoggend, nadat brandbestryders twee dae onverpoos gewerk het, het die brand by Hansekop buite Grabouw weer opgevlam. “Die vuur het hoog in die berge onder Hansekop opgevlam, wat dit ontoeganklik gemaak het en brandbestryders se werk bemoeilik het.
“Cape Nature en die Overberg-distriksmunisipaliteit het dadelik bystand gelewer en lugbystand is ook gereël, maar ongelukkig het weerstoestande dit moeilik gemaak om 05:00 op te styg en die lugbystand kon eers ná 06:00 met brandbestryding begin,” het die Overberg-distriksmunisipaliteit gesê.
Maandagoggend was nege eenhede steeds ontplooi om die brand in bedwang te bring en die toestand te monitor. “Die eenhede wat ontplooi is, se primêre plig is om toe te sien dat die brand nie na die onderkant van die spoorlyn by die N2 versprei nie en ook nie ’n gevaar vir die dorpsgebiede inhou nie,” lui ’n persverklaring wat deur die Kaapse Skiereiland se brandbestrydingsvereniging uitgereik is.
Ongeveer 500 ha is al afgebrand en die gemeenskap word versoek om skenkings soos water, energiekoeldrank, energiestafies, kos ensovoorts by die Spar in Grabouw af te lewer.
Volgens die Theewaterskloof-munisipaliteit het die wind en warm weer bygedra tot die moeilike toestande om die brand by Hansekop, Wesselsgat en Knorhoek in bedwang te bring.
“Teen Maandagmiddag het die vlamme nog tussen Knorhoek tot bo Hansekop gewoed en die Stad Kaapstad sal dit by Knorhoek probeer blus terwyl Cape Nature Hansekop sal aandurf. Dieper in by Wesselsgat bly ’n probleem en dit kan brandbestryders nog ’n rukkie besig hou. Geen huise of inwoners is in gevaar nie,” het die TWK se persverklaring gelui.
Teen druktyd is berig daar is goeie vordering gemaak en dat dit steeds by Eikenhofdam brand, maar danksy die reën wat voorspel is vir Dinsdag en Woensdag, kan dit die vuur heeltemal in bedwang bring. . Intussen was inwoners van Grabouw Sondagoggend baie benoud nadat brandbestryders en selfs ’n helikopter ’n brand op die oop stuk grond langs die Hoërskool Grabouw se rugbyveld geblus het. Gerugte doen die ronde dat kinders die brand begin het, en die owerhede vra almal moet waaksaam wees en sulke onwettighede dadelik aanmeld.



