Wieletjiedromme (wheelie bins) wat dikwels gesteel word, is vir inwoners van die Theewaterskloof-munisipale gebied wat van dié soort vullisdromme gebruik maak ’n groot kopsorg, want dié dromme moet teen ’n hoë prys deur inwoners self vervang word.
Die TWK het egter goeie nuus vir inwoners wie se dromme gesteel word – die munisipaliteit het onlangs aangekondig sekere prosesse kan gevolg word om die dromme moontlik gratis te laat vervang.. Gesteelde dromme moet deur die huiseienaar by die polisie aangemeld word.. ’n Saaknommer moet verskaf word wanneer aansoek gedoen word vir ’n vervangingsdrom.. ’n Voorgeskrewe vorm, verkrygbaar by jou naaste dorpskantoor, moet ingevul word en by die dorpsbestuurder ingedien word.. Die dorpsbestuurder sal op grond van die inligting op die vorm besluit of ’n nuwe drom uitgereik word.. Indien jou drom deur die vulliswerwyderaars beskadig word en jy dit met bewyse kan staaf, kan jy by die dorpskantoor vir ’n ander drom aansoek doen.
“Let asseblief daarop dat hierdie slegs van toepassing is vir dromme wat tans gesteel of beskadig is; jy kan nie vir ’n vervangingsdrom aansoek doen as jou drom maande of jare gelede gesteel of beskadig is nie. Mense word ook versoek om nie hul dromme oornag op straat te los nie.
“Let ook daarop dat dromme slegs vir huishoudelike afval is. Indien jy byvoorbeeld bourommel in die dromme plaas, stel jy jouself aan moontlike vervolging bloot,” het die TWK gesê.





