Dit is menige se gunsteling-seedier – seeskilpaaie. Hierdie interessante dier het die verbeelding van klein en groot met die rolprent Finding Nemo aangegryp, maar die werklikheid is dat dié diere uitsterwing in die gesig staar.
Die Seeskilpad-bewaringsentrum by die Twee Oseane-akwarium hou elke jaar ‘n uitreikprogram om mense bewus te maak van seeskilpaaie, hul rehabilitasie en hoe om gestrande seeskilpaaie weer vry te laat.
“Vanjaar is ons negende bewusmakingsveldtog en dit vind plaas van 16 tot 23 Februarie,” sê Tracey Whithead, die bestuurder van die sentrum. Die bewaringsentrum huisves ‘n seeskildpad-hospitaal en het volgens haar die afgelope 17 jaar gegroei tot ‘n sentrum wat by die res van die wereld kan kersvashou. “Ons word wêreldwyd erken en ons program het al 100 skilpaaie gered,” sê Whitehead. Sy sê sy is ook dankbaar vir die plaaslike en internansionale hulp wat hulle ontvang.
Die doel vir die bewusmakingsveldtog is om met die gemeenskappe langs die kus te kommunikeer, plaaslike netwerke daar te stel en opleiding te bied oor hoe om die diere te red en te rehabiliteer.
Die veldtog sluit in oudiovisuele aanbiedings oor hoe om seeskilpaaie te red en te bewaar, interaktiewe betrokkenheid, inligting deur veeartse, bewusmaking, aannemingsopsies, reddingsnetwerk-inlig-
ting en ‘n fotomuur en verkope van verskillende produkte. Die bewusmakingsveldtog is op 20 Februarie by De Hoop, op 21 Februarie by Struisbaai (Harbour Cafe and Beach Bar), op 22 Februarie by Gansbaai (Great White House) en op 23 Februarie by Bettysbaai (Coffee op Clarence).




