Die Theewaterskloofdam was in 2017 amper leeg, maar is vandag meer as 100% vol.


Inwoners van die Overberg kan uitsien na effens hoër temperature na die nat bibberweer van die afgelope naweek.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal die kwik oor die volgende paar dae nie veel hoër as 15 °C styg nie en sal die sonskynweer na verwagting tot na Donderdag duur.

Tussen Vrydag en Saterdag was altesaam 38mm reën in Grabouw en 33mm in Villiersdorp aangeteken. In die daaropvolgende 24 uur is 25mm neerslag in Swellendam, 7mm in Struisbaai en 16mm in Grabouw aangeteken.

Daar word egter geen reën vir die res van die week voorspel nie.

Hermanus kan uitsien na ’n verwagte minimum van 9 °C en maksimum van 17 °C Dinsdag. Die kwik sal Dinsdag in Grabouw van 5 °C in die oggend tot ’n effens warmer 17 °C styg en in Agulhas van 10 °C tot 16 °C.

Donderdag kan inwoners van Grabouw uitsien na ‘n maksimum van 25 °C, Hermanus 22 °C en Agulhas 19 °C.

Volgens die departement van water en sanitasie het die naweek se swaar reën nie ’n beduidende verskil aan groot damme in die streek se vlakke gemaak nie. Theewaterskloof-dam se vlak staan op 102,2% wat effens laer is as verlede week toe dit op 102,9% gestaan het. In dieselfde tydperk verlede jaar was dié dam slegs 76,3% vol.

Die De Bos-dam in Hermanus se vlak is onveranderd en staan steeds op 100%. Dié dam was verlede jaar slegs 95,9% vol.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article