Hoewel die wandelpad by Stoney Point tans herstelwerk ondergaan, kan die publiek steeds die reservaat besoek en die pikkewyne sien.Foto: Bianca Du Plessis


Besoekers aan die Stony Point-natuurreservaat in Bettysbaai kan eersdaags weer op die kronkelende wandelpad kuslangs loop om pikkewyne in hul natuurlike habitat te sien.

Dié wandelpad sal vir die volgende paar weke broodnodige herstelwerk ondergaan om die veiligheid van besoekers te verseker.

Petro van Rhyn van CapeNature sê dié organisasie het ingenieurs aangestel om die skade weens erosie oor die jare te bepaal en die nodige herstelwerk te beplan om te verseker dat die publiek veilige toegang tot die pikkewyn-kolonie kan geniet voordat die feestyd aanbreek.

Hoewel die wandelpad tans gesluit is, kan die publiek steeds die reservaat besoek om pikkewyne van nader te sien. On Edge-restaurant op die perseel is ook oop vir die publiek.

“Die publiek se veiligheid is van die grootste belang vir CapeNature en ons vertrou almal sien uit na die heropening van die wandelpad. Ons waardeer die publiek se ondersteuning aangesien die inkomste wat toerisme by Stoney Point-natuurreservaat genereer, direk teruggeploeg word in die bewaring van ons pikkewynkolonie. CapeNature bedank die publiek en plaaslike ondernemings vir hul geduld,” sê Van Rhyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article