BREDASDORP – ‘n Gedenkwaardige parade het Saterdag 3 Oktober by die Hoërskool Bredasdorp plaasgevind om die blywende verhouding tussen die Kaap Agulhas-munisipaliteit en die Overberg-lugmagbasis te herdenk.
By die geleentheid was lede van die Suid-Afrikaanse Lugmag, munisipaliteit en uitgenooide gaste teenwoordig. Die Kaap-Agulhas-munisipaliteit se burgemeester, Raymond Ross het in sy openingstoespraak erkennig gegee aan die belangrike rol wat die Overberg-lugmagbasis speel om Suid-Afrika se lugruim te beveilig. ‘n Hoogtepunt van die seremonie was die verbyvlug van die Silwer Valke in drie Pilatus PC-7 Mk II-vliegtuie.
Tydens die seremonie is die amptelike Vryheid-van-toegang-verklaring ook aan die lugmagbasis oorhandig, wat erkenning gee aan die langdurige verhouding tussen die munisipaliteit, sy inwoners en die lugmagbasis sedert die stigting daarvan in 1988.
Die dokument is deur Ross, raadslid Sikhulule Ngxowa, die finansiële hoof Werner Jonker, en die bevelvoerder van die Overberg-lugmagbasis kolonel Mark Gomez onderteken.
Ná die toespraak het die burgemeester ‘n formele inspeksie van die parade uitgevoer en hulde gebring aan die professionalisme, dissipline en toewyding wat die mans en vroue van die Suid-Afrikaanse Lugmag getoon het. Die verrigtinge is met ‘n parade deur die strate van Bredasdorp afgesluit.


