Die VLV Sirkel Overberg het pas sy 92ste konferensie Woensdag 11 Maart in die NG kerk Onrusrivier aangebied.
Die Sirkel Overberg bestaan uit sewe VLV-takke, naamlik Hermanus, Bredasdorp, Caledon, Gansbaai, Jongensklip, Kleinmond en Villiersdorp, en ongeveer 100 lede van dié takke het die kongres, wat deur die Hermanus-tak aangebied is, bygewoon.
Die VLV se tema vir 2026 is “krag lê in spanwerk” en die projek vir die jaar is “van tuin tot tafel”. Albei dié temas is deur verskeie sprekers aangeroer.
Voor die verrigtinge is tee, koffie en versnaperings voorgesit. Die sirkelpresident, Elbé Fourie, het die konferensie amptelik geopen en die konstituering waargeneem. Magda Marais, die voorsitter van die Hermanus-tak, het die naamlesing gedoen asook die verwelkoming.
Ds. Coenie Calitz het met skriflesing en gebed geopen. ‘n Baie vol program, wat openbare sake, die finansiële verslag, sirkelverslae, terugvoer van beoordelaars en die oorhandiging van trofeë ingesluit het, is afgewissel met musiekbydraes en interessante praatjies deur verskeie sprekers.
Rita Louw het die begeleiding vir die samesang van die “Oorwinningslied”, “Lekkersing VLV-lied” en “Heer, ons dink aan Afrika” gedoen.
Hoewel die uitvoerende burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, Archie Klaas, ‘n besige dag gehad het, het hy tyd gemaak om die konferensiegangers toe te spreek. Hy het genoem dat die OM met verskeie projekte besig is wat onder meer die opgradering van die R43 en die herlewing van Hermanus se sakekern insluit. Klaas het die Sirkel Overberg bedank dat hulle die konferen-
sie in Hermanus aangebied het en die Hermanus-tak vir hul bydrae wat hulle in die gemeenskap lewer. Hy het ook genoem dat hy ‘n sterk emosionele verbintenis met Onrus het aangesien sy ouma daar gebore is.
Die finansiële konsultant Corniël Calitz het verskeie sangitems gelewer en het die lede met sy welluidende basbariton-stem omtrent in vervoering gehad. Armand Briers van Itheta Labs, ‘n organisasie wat op digitale ledegenerering en Kunsmatige Intelligensie-gedrewe oplossings fokus, het ‘n interessante praatjie oor KI en die mensdom gelewer – ‘n nuttige hulpmiddel of ‘n versteekte risiko.
Phillip Marais van Riposo-restaurant het oor spanwerk gepraat en onder meer genoem dat oop kommunikasie van uiterste belang vir goeie spanwerk is.
Die lewensafrigter en motiveringspreker Sue Leppan het gevra: Hoe praat ons met onsself? Hoe kyk ons na onsself en hoe lyk ons binnetuin?
Carolyn Martin van Creation Wines, een van die top-tien-wynplase ter wêreld, het oor hul vernuwende leierskapmetodes gepraat en dit met ‘n interessante video toegelig. Drie gelukkige gaste het geskenkbewyse vir ‘n kos-en-wynparing by Creation gewen.

Die onkoloog dr. John Duminy van Hermanus het inligting verskaf oor die omvattende dienste wat hulle aan kankerpasiënte verskaf en genoem sedert hulle ‘n bestralingseenheid het, hoef pasiënte – en hy – nie meer “oor die berg” te ry vir bestraling nie. Hulle het ook ‘n pasiëntehuis, The Flower Box, waar pasiënte van verder omliggende dorpe teen ‘n baie billike tarief kan tuisgaan terwyl hulle bestraling ontvang.
‘n Eretoekenning word jaarliks aan iemand wat ‘n bydrae in die Overberg-gemeenskap lewer, toegeken. Dr. Duminy het dit vanjaar ontvang vir die bystand wat hy aan kankerpasiënte lewer.
Die gasspreker Hetta van Deventer-Terblanche het geen bekendstelling nodig nie, want almal ken haar as een van die Kokkedoor-beoordelaars. Sy word ook gereeld op radio gehoor, was ‘n restauranteienaar, navorser en is ‘n kenner van Suid-Afrikaanse kos en het ‘n kookboek geskryf oor waar ons resepte vandaan kom. In haar insiggewende praatjie het Van Deventer-Terblanche vertel van die navorsing wat sy gedoen het oor die Westpalm-reseptemanuskrip van 1719 tot 1888 (die mees omvattende en volledig historiese resepteversameling in Suid-Afrikaanse geskiedenis), die “Recept Book van Mrs the Widow van Blommestein”, op 23 September 1937 deur ene “Mr V Desvages” aan die South African Public Library oorhandig.
Op een manuskrip was alle resepte in Nederlands geskryf en enkele resepte met Franse of Engelse opskrifte, of anderstalige woorde tussenin.
Met die transkripsie het Van Deventer-Terblanche begin deur dit in drie handskrifpatrone in te deel, want baie letters het anders gelyk. Die letter “p” het soos “x” gelyk en die letter “h” soos “g”, om ‘n paar voorbeelde te noem.
Sy het ook gepraat oor die verskillende tegnieke, bestanddele en kruie en speserye wat kokke gebruik het.
Verder het sy ook navorsing gedoen oor die betrokke families. Dit was inderdaad ‘n projek wat baie jare geduur en oneindige geduld geverg het. Ná ‘n heerlike middagete het die beoordelaars hul terugvoer gegee en is die trofeë oorhandig. Hermanus was die algehele wenner met agt trofeë, gevolg deur Caledon (vier), Gansbaai en Bredasdorp (drie elk) en Kleinmond en Villiersdorp met een trofee elk.
Villiersdorp se voorsitter, Johlene Viljoen, het die takprestasietrofee in ontvangs geneem vir haar jare lange VLV- betrokkenheid. Viljoen is al 55 jaar ‘n lid en het verlede jaar haar erkenningsbalkie hiervoor gekry.
Die sirkelpresident, Elbé Fourie, sê: “Vir my as sirkelpresident was dit ‘n voorreg om die deelname te sien en te ervaar. Daar was ‘n goeie aantal inskrywings in die Leefstyl en Kunste & Handvlyt-kompetisies. Dit was die tweede jaar wat dit ‘n uiters warm dag was, maar dit het nie die gees van die lede gedemp nie. Hermanus kan tevrede wees met ‘n geslaagde dag.”






