VLV-lede oorhandig ‘n kruideniersware-geskenkbewys aan die Oase-dienssentrum. Hier is Caroline Hendricks (Oase), Maureen de Jager (VLV), Hettie Lötter (VLV), Hermien Sauls en Edna Vashu, albei van Oase-dienssentrum.

Die Caledon-tak van die Vrouelandbouvereniging het ‘n bedrywige paar maande agter die rug. Mense wat dink dié vroue bak en brou en hekel en brei net, maak ‘n fout.

Interessante en insiggewende praatjies en demonstrasies word gereeld op hul maandelikse vergaderings aangebied en die lede gaan ook gereeld op interessante opvoedkundige uitstappies.

Lede en gaste het by ‘n pretdag wat aangebied is ‘n heerlike oggend met speletjies deurgebring. Veral die Bingo-speletjie het groot pret opgelewer. Talle pryse is gewen. Die pretdag was ‘n geldinsamelingsveldtog en met dié geld het die VLV geskenkbewyse vir kruideniersware aan verskeie dienssentrums, waaronder die Oase-, Disa- en Protea-dienssentrums, oorhandig. Aangesien subsidies by dienssentrums drasties verminder is, het die dienssentrums hierdie ruimhartige gebaar met groot dankbaarheid aanvaar.

Verskeie lede het onlangs ‘n uitstappie na die Palmiet-kragstasie onderneem. Daar het Liesel Sherwood Adcock vir hulle ‘n voorlegging van verskeie kragstasies gedoen en verduidelik hoe dit werk en hoeveel krag opgewek word. Hulle is ook op ‘n begeleide toer deur die kragstasie geneem, wat die lede besonder insiggewend gevind het.

By die 95ste VLV-kongres, wat by Club Mykonos in Langebaan aangebied is, het die Caledon-tak weer besonder goed gevaar deur nie net die trofee vir die tak met die meeste leefstylpunte te verower nie, maar ook as die top-tak aangewys te word.

Elke vergadering het ‘n tema en wanneer die tema nie ‘n uitstappie behels nie, word ‘n gasspreker genooi. Annemé Grobler, ‘n entrepreneur en suksesvolle sakevrou, het haar lewensverhaal op die onlangse leefstylvergadering vertel hoe sy haar onderneming opgebou het wat sakke – van potloodsakkies tot reissakke – uit pragtige geplastiseerde, waterdigte materiaal vervaardig.

• Bel Corrie Fogwell by 083 270  8374 vir nog inligting.

Trotse Caledon-VLV-lede met die trofeë wat hul tak verower het. Agter is Adri Liebenberg, Louise Pyper, Corrie Fogwell en die gasspreker Annemé Grobler met een van haar pragtige sakke. Voor sit Yvonne Pretorius.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article