Veronica O’Connell van Onrus het die vroue van die VLV-Hermanus toegespreek oor hoe om jou huis te ontrommel en dinge reg te pak.


Die vroue van die Vrouelandbouvereniging (VLV) in Hermanus het hul leefstyldag baie geniet.

Die bekende binneversierder van Onrus, Veronica O’Connell, het die vroue meer vertel oor hoe om jou huis te ontrommel en reg te pak. Veronica se passie is nie net die mooimaak van huise nie, maar sy spesialiseer ook in stoffering en blindings. Vir Veronica is minimalisering die wagwoord en haar leuse is: “Dit wat jy het, moet met jou praat.

“Opgaar is alles sielkundig, en om te verminder is ’n kopskuif wat nie net bevrydend kan wees nie, maar ook jou huis en kaste agtermekaar kan kry,” sê sy.

Sy stel voor dat ’n mens met een vertrek en een kas op ’n slag begin. “As iemand anders iets nodig het wat jy nie gebruik nie, gee dit weg,” skerts sy.

Sy het ook die verskil tussen van iets hou en om iets nodig te hê, beklemtoon en wys daarop dat ’n mens maklik dit wat mooi is, met onnodige goed kan “versmoor”.

“Pasop vir goetertjies. Goed wat maklik opgaar, is skryfbehoeftes, margarien-bakkies, halwe kerse, grimering, naelpolitoer en halfbottels medisyne,” verduidelik sy.Interessante wenke:. Maak minstens een keer per jaar jou medisynekassie leeg en gooi uit wat verval het; . Kyk na sokkies sonder maats;. Geskenkpapier en sakkies – gebruik eerder ’n inkopiesak vir geskenke, dan kan dit hergebruik word;. Pasop om “specials” te koop as dit nie werklik nodig is nie;. Lappies op tafels is uit die mode;. Lapservette is nie nodig nie, jy kry net sulke mooi papierservette. . Groen is dié kleur wat in elke huis moet wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article