’n Gruwelike drama het hom verlede Woensdagoggend in Zonnendal in Kraaifontein afgespeel toe ’n man van Gansbaai sy vervreemde vrou vermoor, die polisie met ’n vuurwapen gedreig en homself daarna geskiet het.
TygerBurger, ’n susterskoerant van Hermanus Times, het betroubaar verneem die man, Johan de Wet (59), het uit die Overberg gereis met die voorneme om die slagoffer, Alicia de Wet (63), te vermoor. Volgens die bron het hy die vorige dag iemand gebel om te sê hy kom Kaap toe om haar te skiet.
De Wet was met ’n vuurwapen en ’n mes gewapen.
Hy het glo omstreeks 07:00 by haar huis in Aucubastraat gestop, waar hy haar ná haar oggendstappie ingewag het. Na wat verneem is, het hy haar sonder haar wete deur die motorhuis by die huis in gevolg.
Bure het glo ’n rukkie later haar noodkrete uit die huis gehoor en ’n noodoproep na die polisie gemaak.
Met die polisie se aankoms moes hulle oor die heining klim en het die man by die voordeur se veiligheidshek gekonfronteer, waar hy aan die polisie gesê het alles is in orde.
Die twee polisiebeamptes – ’n man en ’n vrou – het egter bloed op sy hemp gesien en die huis binnegedring. Hulle het die vrou nog lewend, maar bebloed, op die vloer gevind.
Sy is glo met ’n okapi-mes in die nek, maag en heup gesteek.
“Die man het weer sy verskyning gemaak en ’n vuurwapen op die twee polisiebeamptes gerig om te skiet, maar die polisie het eerste gevuur om hom buite aksie te stel en hy is in die maag getref.
In die etlike sekondes wat hy grond toe geval het, het hy dit reggekry om die vrou op die vloer dood te skiet voordat hy homself doodgeskiet het,” sê die bron.
By amptelike navraag het die polisie se provinsiale mediakantoor die voorval bevestig, maar wou nie die fyner besonderhede bevestig nie.
“Die Kraaifontein-polisie het ’n moordsaak sowel as ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Die omstandighede rakende die voorval is onderhewig aan ’n polisie-ondersoek en die fyner aspekte van die saak sal nie in hierdie voortydige stadium aan die media bekend gemaak word nie,” het die polisie-woordvoerder sers. Wesley Twigg gesê.





