Liesel Mouton het nooit gedink dat borskanker ooit by haar gediagnoseer sou word nie.

Mitzi Buys

Oktober is Borskankerbewusmakings-maand. Borskanker is die mees algemene vorm van kanker onder Suid-Afrikaanse vroue, sê die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).

Volgens Kansa se register van 2019 loop een uit 27 vroue die gevaar om borskanker op te doen.

Die woord kanker boesem vrees in by mense en baie mense kan, of wil, nie oor hul ervaring praat nie.

Liesl Mouton van Caledon het ’n bietjie langer as ’n jaar gelede die verpletterende nuus gekry dat sy borskanker het, en gevolglik ’n dubbele mastektomie asook rekonstruktiewe chirurgie ondergaan. Liesl deel haar storie met Hermanus Times. Haar storie is nie net een van oorwinning nie, maar ook een van geloof en hoop.

Liesel Mouton het nooit gedink dat borskanker ooit

“Borskanker was nooit in my gedagtes nie,” sê Liesl. “Ek het nooit gedink dit sou my ooit tref nie, want ek het nooit enige probleme of pyne gehad nie. Ek het dokter toe gegaan omdat my knie seer was en toe vir dokter gevra om sommer na my bors ook te kyk, want my een tepel was plat. Net om seker te maak het ek vir ’n mammogram gegaan en ’n biopsie is gedoen,” sê Liesl.

Toe die dokter haar laat inkom om die uitslag van die biopsie te kry, het Liesl gehoor sy het ’n gewas gehad wat kwaadaardig was. “Skok was my eerste reaksie, want wat ek met die woord kanker verbind het, was die dood. Ek het dadelik aan my 14-jarige dogter gedink en ook aan my man en my ma. Hoe gaan ek dié nuus aan my 75-jarige ma oordra?” het Liesl gewonder. “Jou brein en alles gaan in ’n ander mode in en survival mode skop onmiddellik in.”

’n Onkoloog het bevestig Liesl sal ’n dubbele mastektomie moet ondergaan.

“Alles het so vinnig gebeur,” sê Liesl. “Toe ek by die huis kom, het ek my afgesonder en op my knieë gegaan en met die Here gepraat. Ek het nie verstaan nie. Alles was te vinnig en te veel, maar wat ek vir ’n feit weet, is dat die Here in beheer van die hele storie is.”

Liesl noem die feit dat sy nooit voorheen gesondheidsprobleme gehad het nie, haar laat besef het dat daar ’n “ander doel met die hele storie” is. “Dit gaan nie oor my nie. Daar is ’n groter doel en dit is oor die glorie van God – van die eerste oomblik dat ek die gemoedsrus gekry het nadat ek gebid het – ek kan dit nie beskryf nie – maar ek het eenvoudig nie daaraan gedink nie.”

Danksy die vroeë opsporing was dit nie nodig dat Liesl chemoterapie of bestraling moes ontvang nie, maar sy sê: “Dit was vir my ’n wake-up call. Ek het besef dit is tyd om voluit te leef, soos wat ’n mens veronderstel is om te doen. Ek het ook besef dat ek aandag nodig het; dat my liggaam aandag nodig het. Begin by jóú. As jy nie gesond is nie, kan jy nie vir ander sorg nie.

“Borskanker is nie noodwendig ’n doodsvonnis nie. Ek het gewis sterker aan die ander kant uitgekom en het meer empatie vir mense by wie kanker gediagnoseer is,” sê Liesl.

“Dit is egter baie belangrik om vir gereelde ondersoeke te gaan. Jy móét vir jou jaarlikse ondersoeke gaan. Jy moet ook jou eie liggaam leer ken en gereeld selfondersoek doen,” sê Liesl.

Liesl se storie is vir haar sonder twyfel een van hoop en bemoediging.

“Die storie gaan mos oor ek wat dit nou gehad het, en ek is hierdeur. Wat maak ek nou daarmee? Ek kan dit mos nie vir myself hou nie? Ek moet dit deel. Iemand daar buite kan dalk net iets daaruit kry.”

Liesl sê mense kan met die grootste liefde met haar kom praat, net om daaroor te gesels of om emosionele bystand te kry. “Ek voel dit is deel van die ‘hoekom’ ek hierdeur is, en dat ek hierdeur moes gaan om dit te verstaan,” sê Liesl.. Liesl kan by 073 193 0353 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article