Gansbaai-polisie het op dwelms, drank, gevaarlike wapens en vermoedelik gesteelde goedere beslag gelê.


Altesaam 175 verdagtes is tydens misdaadvoorkomingsoperasies deur die Gansbaai-polisie in hegtenis geneem.

Luitenant-kolonel Winston Coetzee, bevelvoerder van die Gansbaai-polisie, berig die inhegtenisnemings was gemaak tydens multi-dissiplinêre operasies wat in Julie uitgevoer is.

Die doel van dié operasies, het Coetzee verduidelik, was hoofsaaklik om kontak- en eiendomsmisdade te voorkom. “Die fokus was daarop om faktore wat tot misdaad bydra aan te spreek. Dit het die gewenste uitwerking gehad en daar was ’n daling in alle misdaadkategorieë,” het hy bygevoeg.

As deel van die misdaadvoorkomingsoperasies was padblokkades, stop en deursoek-operasies, voet- en voertuigpatrollies sowel as operasies wat op padveiligheid gemik is, gehou. Volgens Coetzee is inspeksies by gelisensieerde drankhandelaars se persele ook gedoen om te verseker dat hulle aan regulasies voldoen.

Tydens die operasies is onwettige drankhandelaars toegemaak, daar is beslag gelê op gevaarlike wapens en daar is ook gefokus op aksies om dwelmsmokkelary, gesteelde eiendom, die toepassing van die immigrasiewet en oortreding van die wet op mariene lewende hulpbronne aan te spreek.

Volgens Coetzee is altesaam 169 persele wat met dwelms- en bende-aktiwiteite verbind word sowel as 101 persele waar onwettig met drank handel gedryf word, ook deursoek. Tydens die operasies en padblokkades is daar op dwelms, drank, gevaarlike wapens, gesteelde eiendom, perlemoen en kontant wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is, beslag gelê.

“Altesaam 175 verdagtes is in hegtenis geneem – 65 verdagtes is vir dwelmverwante misdade aangekeer, 15 vir die besit van gevaarlike wapens, 14 vir oortredings wat verband hou met die oortreding van die mariene hulpbronne wet, 10 vir die onwettige drankverkope en 25 persone vir wie daar lasbriewe uitgereik was,” aldus Coetzee.

Al dié verdagtes het reeds in die hof verskyn.

Coetzee het die polisiebeamptes bedank vir hul toewyding daartoe om ’n veiliger gemeenskap te verseker en die publiek se vertroue in die polisie te herstel.

“Ons sal voortgaan om met alle eksterne rolspelers en die gemeenskapspolisiëring-strukture te werk om ’n veilige omgewing vir almal te skep,” het hy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article