Die lede van die Hermanus-VLV saam met hul mans by die sop-en-sjerrie-aand.


Die vroue van die Vrouelandbou­vereniging (VLV) se Hermanus-tak het gewys dat die eendeweer hulle nie afsit nie.

Die vroue het voortgegaan met die beplande sop-en-sjerrie-aand saam met hul manne. “Ons het almal verlede Vrydagaand rondom die heerlike sopbakke, varsgebakte brood, tuisgemaakte konfyt en patats gekuier. Ons koue lywe is opgewarm deur die glasie sjerrie wat ons by ons aankoms verwelkom het,” het Mariëtte Steyn, woordvoerder van die VLV-Hermanus-tak, gesê.

Ná die heerlike sop en broodjies is hulle ook met ’n lekker malvapoeding bederf.

Tydens die sop-en-sjerrie-aand het die VLV-lede ook die geleentheid gehad om Ria Eksteen se 92 ste verjaardag te vier.

“Ria is nie net die oudste lid van ons tak nie, maar is ook al 66 jaar lid van die VLV,” het Mariëtte gesê.

Die merkwaardige vrou bestuur nog haar eie motor en is geheel en al onafhanklik. Sy vertel sy het in 1958 by die Franschhoek-VLV aangesluit en hoe die destydse lede spyseniering vir troues gedoen, blommeskoue en ander geleenthede gehou het.

“In daardie dae was daar omtrent niks in Franschhoek nie; feitlik geen geboue by die stasies nie, en ons het onder die afdakke spyseniering vir die passasiers gedoen. Ek onthou ons het een oggend 03:00 opge-staan om mark toe te gaan.” Ria het van haar herinneringe met die lede gedeel en almal was dit eens dat hulle baie bevoorreg is om deel van haar lewe te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article