Wanneer die Vrouelandbouvereniging (VLV) ’n konferensie in Caledon hou, is dit gewis nie ’n saai affêre van net notules en ’n vervelige sakelys nie – inteendeel, die Sirkel-Overberg se 89ste konferensie, wat Woensdag 15 Maart gehou is, was ’n baie interessante dag met onder meer musiek en sang, beoordeling van produkte, verskeie gassprekers en natuurlik, soos te verwagte, met die allerheerlikste versnaperings wat voorgesit is.
Die Overberg-VLV bestaan uit sewe takke, naamlik Villiersdorp, Kleinmond, Hermanus, Gansbaai, Bredasdorp, Jongensklip en Caledon. Dat hierdie takke almal baie aktief is, kon gesien word aan die groot aantal afgevaardiges wat die konferensie bygewoon het.
Retha Skein, ondervoorsitter van die Caledon-tak, sê: “Die konferensie was gewis baie suksesvol en almal het met groot lof daarvan gepraat. Die VLV is nie net daar om met ingelegde produkte en gebak teen mekaar mee te ding nie – ons leer ook gereeld nuwe handwerk soos weef en blommerangskikkings.”
Martie Koegelenberg, ’n gemeenskapsaktivis en een van die gassprekers, het na afloop van die konferensie aan Hermanus Times gesê:” Hoewel ons en ons land ons in ’n geweldige krisis bevind, is dit nie die eerste krisis wat ons beleef nie. Dit is burgerlike organisasies soos die VLV wat help om die wa deur die drif te sleep. Die VLV is al 90 jaar aan die gang en weet hoe om ons daardeur te kry. Dit is ’n goed georganiseerde, baie gestruktureerde en gedissiplineerde organisasie en dit is hoekom die VLV oorleef het. In die verlede in Suid-Afrika was dit vroueorganisasies en vroue wat verandering in ons land aangebring het.”
Die redakteur van Tuis, Wicus Pretorius, was die hoofgasspreker en het oor die uitdaging van verandering gepraat. Hy het die Griekse filosoof Heraclitus aangehaal en beklemtoon die enigste waarvan ons seker kan wees, is verandering.
Pretorius het gesê van die grootste faktore wat op die oomblik veranderinge in Suid-Afrikaners se lewe veroorsaak, is onder meer dat digitalisering, die internet en sosiale media mense se lewe oorgeneem het en dat die vierde nywerheidsrevolusie-tegnologie ’n impak op almal se lewe het. Mense word deur tegnologie vervang.
Verder het Pretorius gesê politieke onstabiliteit en beurtkrag hou vir almal groot uitdagings in. “Moenie skrik vir uitdagings nie. Uit ongemak kom daar gewoonlik groei. Geestesgesondheid is belangrik. Ons moet almal na mekaar kyk, nie net na binne nie. Organisasies soos die VLV is die ruggraat van die samelewing.”
Pretorius het afgesluit met ’n uittreksel van Tim du Plessis se onlangse rubriek in Rapport: “Doen alles moontlik om jou en jou mense veilig, gevoed, geklee en opgevoed te hou. Reik uit oor álle grense heen. Jy is nie alleen nie. Stig of sluit aan by netwerke en gemeenskapsinisiatiewe. Leef plaaslik, maar moenie na binne leef nie.”. Die VLV se 90ste konferensie word volgende jaar in Kleinmond gehou.





