Die Vrouelandbouvereniging (VLV) se Hermanus-tak het op Madibadag op 18 Julie ook hul deel gedoen.
Die vroue het groenteplantjies by die Hermanus-nagskuiling geplant.
Dit was nie net die vroue wat gehelp het nie, maar hul mans het ook hul hande vuilgemaak en groente geplant. Groente soos spinasie, kropslaai, kool, wortels en uie is geplant.
Een van die lede, Judie Groenewald, het spesiaal die plantjies uit die Hemel-en-Aarde-vallei gebring en ná die plantery het almal saam met die maatskaplike werker van die nagskuiling, Breggie Smook, en die personeel tee gedrink.





