Die kraanwater in Riviersonderend is volgens inwoners nie op standaard nie, maar die TWK-munisipaliteit het inwoners belowe dat die probleem aan die einde van die week opgelos gaan word.


Die welkome en onverwagse reën wat die afgelope tyd in die Theewaterskloof-munisipale gebied geval het, het amptenare die afgelope tyd laat bontstaan.

Verlede week het die Suid-Afrikaanse Weerdienste donderstorms en vloede vir die Theewaterskloof-munisipale distrik, Kaap Agulhas en die Overstrand voorspel en die week was amptenare druk besig om die skade te herstel. 

Inwoners van Riviersonderend het dadelik die TWK-munisipaliteit laat weet dat daar probleme met hul kraanwater is en die woordvoerder van TWK-munisipaliteit het gister bevestig dat hulle bewus is van die tegniese probleme by die watersuiweringswerke en dat hulle besig is om die probleem op te los. “Ons wil ook graag inwoners bewus maak van die feit dat ons tegniese probleme by ons watersuiweringswerke ondervind en dat ons besig is om die probleem op te los. Die kleur van die water kan dalk verkleur lyk as gevolg van die swaar reën wat ons behandelingsproses beïnvloed het. Die klep by die onttrekkingspunt is beskadig en ons is besig om dit te vervang. Die kleur van die water in ons netwerke sal teen die einde van hierdie week verbeter. Ons doen ’n beroep op inwoners om asseblief water spaarsamig te gebruik aangesien Eskom vandag elektrisiteitstoevoer na Riviersonderend van 06:00 tot 18:00 sal onderbreek,” het die persverklaring gelui.

Intussen is die hoofstraat van Botrivier ook vandag gesluit om herstelwerk aan die pad te doen. “Die inwoners moet asseblief die hoofingang na Botrivier gebruik aangesien ons aan die hoofstraat werk ná die vloedskade,” het TWK gesê. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article