Die vliegtuig wat verlede week ’n noodlanding op die R43 tussen Pearly Beach en Gansbaai gedoen het, laat mense kopkrap.
Hermanus Times is oorval met oproepe van ontstoke inwoners oor die vliegtuig wat Saterdagmiddag laag oor Hermanus gevlieg het en na bewering toertjies in die lug gedoen het. Nou het dit aan die lig gekom dat dit dieselfde vliegtuig is wat die noodlanding gedoen het.
“Dit is onverantwoordelik om so te vlieg. In ’n stadium het dit vir my gelyk of die vlieënier in die moeilikheid is,” het ’n inwoner, wat die manewales saam met haar kleinkind gade geslaan het, gesê.
’n Ander inwoner het vertel toe hy die vliegtuig hoor, het hy dadelik uitgegaan, want die vliegtuig het baie laag oor die huise gevlieg.
Dié inwoner, wat self ’n vlieënier is, het ook opgemerk dat die vlieënier onverantwoordelik opgetree het.
Die vliegtuig, ’n Beechcraft Baron, wat aan die Test Flying Academy of South Africa (TFASA) in Oudtshoorn behoort, het verlede Woensdag omstreeks 12:15 ’n noodlanding langs die R43 gedoen nadat “krag op al twee die enjins verloor is ná opstyging by Pearly Beach,” aldus die hoofbestuurder van TFASA, Willem Marais.
“Die vlieënier moes, toe hy besef het krag in albei enjins is verlore, ’n besluit neem. Die vliegtuig het langs die R43 te lande gekom en die bosse langs die pad het aan die brand geslaan. Gelukkig is geen beserings aangemeld nie, en ná verdere ondersoek en mediese ondersoek het Burgerlugvaart toestemming gegee dat die wrak verwyder kan word.”
Nooddienste was vinnig op die toneel en ’n stop-en-ry-stelsel is aangebring om die verkeer te reguleer.
Volgens Marais is TFASA wel die eienaar van die vliegtuig, maar die vliegtuig is verlede week aan ’n kliënt verhuur.
“Die vliegtuig was op ’n private vlug na Hermanus en die Pearly Beach-omgewing,” het Marais gesê.





