As jy ‘n gebore en getoë Suid-Afrikaner is, is nasionale braaidag en Erfenisdag sinoniem – nie net omdat dit op dieselfde dag val nie, maar omdat braai deel van ‘n ieder en ‘n elk van ons Suid-Afrikaners is.
Van potjiekos op die vuur tot ‘n heerlike spitbraai en selfs net boereworsrolle – op 24 September steek almal ‘n vuurtjie aan, al is dit dan net om ‘n malvalekker te braai, maar braai gaan ons braai.
Daar is ook verskillende maniere van braai, wat jou braaidag spesiaal kan maak. Ek het al aan ‘n vlakvarkboud gesmul, wat onder die grond gaargemaak is – met die kole bo-op. Dit was heerlik, sappig en iets uit die boonste rakke. Moet ook nie ‘n bosvark op die spit misloop nie …
Maar iets wat nog altyd my verbeelding aangryp, is kliprib, en ek het op dié wonderlike resep afgekom. Aangesien roosters nie altyd op die trekpad beskikbaar is nie, maar wel ysterklippe, kan die ysterklip ‘n ribbetjie sappig gaarmaak, maar krakerig aan die buitekant.
Wat jy benodig:
• ’n heel, vet lamsrib
• ’n koppie witwyn
• gemaalde koljander
• ’n ¼ koppie olyfolie
• sout na smaak
• 1 eetlepel heuning
Só maak jy:
Verhit twee groot plat ysterklippe stadig oor ‘n oop vuur. Die beste is om die klippe skuins teen mekaar oor die vuur staan te maak.
Meng die res van die bestanddele (behalwe die heuning) en smeer dit oor die rib. Jy kan die rib dadelik braai, maar dis die lekkerste as jy dit bedek en vir drie dae in die yskas bêre.
Die klippe moet só warm wees dat water dadelik kook wanneer jy dit op die klip spat.
Sit die een klip plat op die kole, plaas die rib met die vleiskant na onder op die klip, en pak dan die ander klip bo-op die vleis.
(Oondvaste of sweishandskoene sorg dat jy nie jou hande gaarder as die rib brand nie.)
Hou die rib dop sodat die vleiskant nie skroei nie. As dit te bruin begin word, draai dit om en sit weer die boonste klip bo-op.
Die rib behoort binne 30-40 minute gaar te word, met ‘n bros lagie buite om.
Meng ‘n eetlepel heuning met die sous waarin die rib gemarineer het en bedruip die vleis nadat jy dit afgehaal het.
Strooi dan ekstra koljander, sout en peper na smaak oor.
Bron: Suidwesters





