Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het met groot opgewondenheid aangekondig dat die nuwe kliniek wat in Villiersdorp gebou word, byna voltooi is.
Roché Butler, woordvoerder van die gesondheidsdepartement in die Overberg, sê daar word verwag dat die fasiliteit in die middel van Februarie in gebruik geneem sal word.
Volgens Butler sal daar nuwe prosesse daargestel word om wagtye te verminder. “Tyd is kosbaar en daarom sal die kliniek volgens afsprake werk sodat mense nie so lank hoef te wag nie. Indien jy ’n afspraak het, hoef jy net ’n halfuur voor die tyd op te daag. Mense kan die kliniek besoek om ‘n afspraak te maak of 028 840 1460 te skakel.
“Ons sal steeds mense sonder afsprake help, maar mense sal moet wag om gehelp te word aangesien hulle met hul aankoms georden sal word en volgens die dringendheid van hul toestand mediese hulp ontvang,” het sy verduidelik.
Daar sal ook drie vensters by ontvangs wees om te verseker dat pasiënte se lêers gouer getrek word. Dienste sal ook volgens kleur aangedui word om te verseker dat pasiënte so gou moontlik die regte behandeling ontvang.
“Sodra die konstruksie afgehandel is, sal ons al die pasiëntinligting en operasionele toerusting na die nuwe gebou moet verskuif. Ons vra verskoning vir enige ongerief wat in dié tydperk veroorsaak sal word en sien daarna uit om die gemeenskap by die nuwe gebou te verwelkom,” het Butler gesê.




