’n Span afgevaardigdes van die Theewaterskloof-munisipaliteit sal vanaand om 18:00 met die gemeenskap van Villiersdorp vergader nadat die dorp gister deur ’n betoging oor dienslewering tot stilstand gebring is.
Die munisipaliteit het in ’n verklaring bevestig dat ongeveer 200 betogers die ingang na ’n deel van die dorp versper het. Die betoging het daartoe gelei dat inwoners nie kon gaan werk nie en leerders kon ook nie die gebied verlaat om skool by te woon nie. Die plaaslike polisie, TWK-wetstoepassingseenheid en verkeersdienste sowel as die Openbare Orde-polisie (POP) was vinnig op die toneel om skarebeheer toe te pas en kon daarin slaag om die oproerigheid en intimidasie te minimaliseer.
Die verklaring deur die munisipaliteit lui: “Dit is tans oesseisoen en die betoging het ’n direkte impak op plaaswerkers wat nie tydens betogings die gebied kan verlaat om na die onderskeie plase waar hulle werksaam is, te reis nie.“ Daar is vinnig opgetree om die landbousektor te beskerm en te verseker dat busse wat plaaswerkers vervoer die gebied kon verlaat. Ons sal nie enige ontwrigting in dié belangrike sektor van ons ekonomie toelaat nie aangesien landbou een van die grootste dryfvere van ekonomiese bedrywighede in die Theewaterskloof-munisipale gebied sowel as die groter Overberg-distrik is.”
Die Theewaterskloof se uitvoerende burgemeester, Kallie Papier, en afgevaardigdes van TWK se departement van menslike nedersetings het met gemeenskapsleiers vergader om hul griewe en moontlike oplossings daarvoor te bespreek. Dienslewering en ’n behoefte aan alternatiewe behuising was die hoofkwessies wat bespreek is. Daar is ooreengekom dat ’n openbare vergadering later hierdie week gehou sou word. Dinge het egter later die dag, omstreeks 18:00 handuit geruk toe ’n groep wat nie by die samesprekings betrokke was nie, wetstoepassers met klippe begin gooi het.
Volgens Wilfred Solomons-Johannes, TWK se waarnemende munisipale bestuurder, het die plaaslike polisie, POP-eenheid en TWK se wetstoepassingsbeamptes deur die nag hard gewerk om te probeer verhoed dat die betogers in die middedorp amok maak.“Die onrus het tot die vroeë oggendure geduur en altesaam 15 winkels is geplunder,” het Solomons-Johannes gemeld. “Die situasie is tans kalm. Die owerhede sal in die gebied bly om die situasie te monitor en te verseker dat werkers en leerders die area kan verlaat.”





