Dit spook glo by die Genadendal-museum.

Video oor museumspoke in Genadendal het almal op hol


‘n Video wat op sosiale media versprei word oor meubels wat laataand in Genadendal-museum geskuif word terwyl die museum gesluit is, het mense aan die gons.

Die museum, op die pad na Greyton, wat eers in 1987 as nasionale museum tot stand gebring is, dateer uit 1838. Genadendal is ook een van die oudste sendingdorpe in die land en het in 1738 tot stand gekom.

Die kringtelevisiebeeldmateriaal wys duidelik hoe meubels op 22 Julie omstreeks 03:00 in die museum rondgeskuif word. Die museum is die volgende dag gesluit vir verdere ondersoek. Die museumbestuur het op sy Facebookblad gesê die veiligheid van hul besoekers, personeel en die versameling in die museum is vir hulle baie belangrik en dis waarom hulle die museum sluit.

Die kommentaar op Facebook wys dat enige “spookstorie” steeds die mense se verbeelding aangryp en menige Facebookgebruiker het voorgestel dat “spooktoere” daar aangebied moet word. Party is ook van mening dat hulle die ouer inwoners moet vra vir raad.

Die Genadendal-museum het op 25 Julie die volgende laat weet: “Ná die oorweldigende reaksie op ons kringtelevisie-beeldmateriaal het museumpersoneel ‘n formele assessering van die geaffekteerde tentoonstelling begin. In hierdie stadium is geen skade aan die versameling geïdentifiseer nie en die tentoonstelling sal tydelik gesluit bly terwyl ons ondersoek voortduur.”

Hermanus Times het ook na die museum uitgereik vir kommentaar en wou veral weet of vorige “onnatuurlike” verskynsels al daar voorgekom het en aan wie die meubels behoort het. Teen die tyd van die plasing van die berig het die museum nog nie teruggekom met kommentaar nie.

VIDEO deur Genadendal-museum.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article