Die samewerking tussen verskillende gemeenskapsorganisasies het onlangs ’n vrou van Vermont se lewe gered.


Samewerking tussen almal is deesdae die sleutelwoord vir ’n suksesvolle en veilige omgewing.

Dit is ook wat gebeur het toe verskillende gemeenskapstrukture op 15 September saamgestaan het om ’n vrou in Vermont te help.

’n Persverklaring lui: “Op 15 September om 15:44 het ’n lid van die AfriForum se Alfa-buurtwag ’n noodroep op ’n WhatsApp-veiligheidsgroep opgemerk. ’n Vrou in die gebied het dringend mediese bystand benodig, maar die eiendom waar sy haarself bevind het, was ontoeganklik weens ’n gemotoriseerde skuifhek en ’n geslote veiligheidshek wat sy nie in staat was om oop te sluit nie. Hierdie situasie het vinnige en gekoördineerde optrede deur verskeie veiligheidsrolspelers genoodsaak om die welstand van die individu te verseker.”

Volgens Jacques Benade, distrikskoördineerder van AfriForum het die AfriForum-buurtwaglid nie tyd gemors nie en dadelik Critical Medical Care (CMC)-ambulansdienste gekontak voordat hy na die toneel gehaas het.

“Met sy aankoms op die toneel het die lid toerusting gebruik om die slot van die veiligheidshek oop te breek sodat die ambulanspersoneel vinnig toegang tot die eiendom kon verkry.

Ander veiligheidsrolspelers soos Onrus Vermont Special Rating Area (OVSRA), die Overstrand-munisipaliteit en Fidelity ADT het ook op die noodroep gereageer en bystand aan die vrou gebied,” vertel hy.

Volgens Benade is die eienaar van die huis eindelik in haar bed opgespoor en onmiddellik na die naaste hospitaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article