’n Beweerde stroper is helder oordag deur onbekende gewapende mans in sy luukse Mercedes-Benz doodgeskiet.
Hordes mense het saamgedrom terwyl die polisie die toneel waar El Mamadou Ndiaye afgemaai is, vir leidrade te fynkam.
Ndiaye, wat alombekend was as Elias, se voertuig is glo by die ingang tot die Overhills se informele nedersetting deur sy aanvallers tot stilstand gedwing voordat hulle op hom losgebrand het.
Adjudant-offisier Martin Mostert, woordvoerder van die polisie in Kleinmond, het bevestig dat die voorval Dinsdag 27 Junie omstreeks 14:30 gebeur het.
“Die slagoffer het op die toneel gesterf. Dit is in dié stadium onbekend of enigiemand anders saam met hom in die voertuig was.
“Geen inhegtenisnemings is al gemaak nie en die ondersoek duur voort,” het Mostert gesê.





