Sewe mans is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van perlemoen.


Sewe mans het Maandag in die Hermanus-landdroshof verskyn nadat hulle oor die naweek met meer as 3000 eenhede perlemoen in hul besit gevind is.

Raadslid Lindile Ntsabo, die Overstrand se onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid van beskermingsdienste, berig dat die verdagtes in hegtenis geneem is tydens ’n roetinemisdaadvoorkoming-patrollie deur wetstoepassing se taakspan, blitspatrollie, die spesiale ondersoekeenheid en mariene-eenheid. 

“Die sewe mans is Saterdag 18 Februarie in Voëlklip in hegtenis geneem nadat beamptes hul voertuie deursoek en altesaam 3 180 eenhede perlemoen in die voertuie gevind het,” het Ntsabo verklaar. Daar is beslag gelê op die perlemoen en twee voertuie met ’n geraamde waarde van ongeveer R 1,6 miljoen in totaal.

Kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig dat drie mans vir die vervoer en besit van perlemoen sonder die nodige permitte in hegtenis geneem is. Nog vier is vir aanhitsing in hegtenis geneem.

“Inligting oor ’n voertuig wat perlemoen vervoer, is opgevolg. Die voertuie is afgetrek en daar is beslag gelê op die groot hoeveelheid perlemoen wat in deurskynende plastieksakke in die Toyota Fortuner gevind is. Die drie insittendes is van die onwettige besit en vervoer van perlemoen in hegtenis geneem. Die vier insittendes van ’n Kia-sportnutsvoertuig wat na bewering saam met hulle gereis het, is ook in hegtenis geneem en aangekla van aanhitsing,” het September berig. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article