September is die maand wanneer Suid-Afrika se ryk kulturele erfenis en uiteenlopende tradisies gevier word. Erfenisdag op 24 September, wat ook as Braaidag bekend staan, is een van ons nasie se gunsteling-vakansiedae.

Kort op die hakke daarvan volg die Hermanus-walvisfees van 29 September tot 1 Oktober.

“Ons kan nie wag vir die Walvisfees nie,” sê Marius Boshoff, Fidelity ADT se takbestuurder in Hermanus.

Die Hermanus-walvisfees vier die groot seediere se terugkeer na plaaslike waters. Dit fokus ook op omgewingsbewaring. Hierdie jaar se tema is “Connect the Blue and Green dots”.

Ongeveer 75 000 tot 130 000 besoekers word oor die drie dae lange fees verwag. Hermanus is bekend as die beste plek ter wêreld om walvisse van die land af te sien, en feesgangers kan daarna uitsien om die walvisse en hul kalfies naby die kuslyn in die see te sien baljaar.

Die Walvisfees bied baie om te doen en te sien, insluitend die straatoptog, markte, opvoedkundige uitstallings, musikante in lewende lywe, smullekker kos en pret vir die kinders.

Boshoff waarsku egter dat die toestroming van mense ook beteken mense sal meer bedag op hul veiligheid moet wees. “Ons stel alle voorsorgmaatreëls in om te verseker die geleentheid sal ’n vrolike en veilige ervaring vir almal wees,” voeg hy by.

Veiligheidswenke:

Boshoff en sy op-en-wakker-span is slaggereed om te verseker almal sal ’n “whale of a time” sonder enige bekommernisse geniet.

Hulle raai aan dat feesgangers noodnommers op hul selfone stoor en enige onnodige kosbare besittings by die huis los. Hy waarsku ook mense om te verseker hul voertuig se deure is gesluit, om in groepe te beweeg en altyd bedag te wees. Almal se samewerking, sê Boshoff, is nodig om te verseker hulle het pret en nie moeilikheid nie. “Onthou, jy kan pret hê, maar veiligheid kom eerste.”. Besoek www.hermanuswhalefestival.co.za vir nog inligting oor die Walvisfees.. In die geval van nood, kontak die Fidelity ADT-beheerkamer by 086 12 12 306 or 028 313 0801. Operateurs is 24 uur per dag aan diens.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article