Personeel van die Caledon-biblioteek en die Caledon-museum, die YeBoneers, ouers en belangstellendes na afloop van die talentskou by die Caledon-museum.Foto: Mitzi Buys


Die vakansieprogram wat die Caledon-biblioteek in samewerking met die Caledon-museum, die departement van kultuursake en sport en die YeBoneers tussen 19 Junie en 5 Julie aangebied het, was weer eens ’n groot sukses.

Verskeie aktiwiteite is by die biblioteek, die museum en by die Caledon-Veldblommetuin aangebied.

Gerhard van Wyk van die biblioteek noem aan Hermanus Times: “Die vakansieprogram is met groot entoesiasme aangebied en kinders van alle ouderdomme het dit vreeslik geniet om deel van al die aktiwiteite te wees. Sommige aktiwiteite was daarop gemik om onder meer motoriese vaardighede te verbeter. Ander programme soos gesigverf, flieks en die skattejag was meer op pret en plesier ingestel.

“Die belangstelling was groot, met tot 43 kinders wat deelgeneem het. Selfs van die ouers het die program bygewoon en aan die aktiwiteite deelgeneem,” sê Van Wyk.

Van Wyk het sy dank en waardering aan die ouers wat hul kinders aan hulle toevertrou het, uitgespreek.

Marlon Sauls, opvoedkundige beampte van die Caledon-museum, sê kinders wat aan die vakansieprogram deelgeneem het, is aan opvoedkundige sowel as ontspanningsaktiwiteite blootgestel.

“Ouers moet besef dat die kinders in ’n veilige omgewing positief by verskeie aktiwiteite betrek word – opvoedkundig sowel as ontspannend.

“Die bywoningsyfer van die vakansieprogram groei elke keer en ons kry positiewe terugvoer van die kinders sowel as die ouers,” sê Sauls.

Die winterprogram is by die museum met ’n talentskou deur die deelnemers afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article