Beyond Black Mountain (BBM), ’n organisasie wat daarna streef om die Caledon-omgewing as toeristeaantreklikheid te bevorder, het saam met die Theewaterskloof-munisipaliteit en die verkeersdepartement Donderdag 6 April ’n bewusmakingsveldtog oor padveiligheid en die omgewing op die paaie op pad na toeriste se vakansiebestemmings gehou. Volgens Romeo Hendricks, die waarnemende hoof van die verkeersdepartement in Theewaterskloof, wil hulle nie net padverbruikers in die omgewing verwelkom nie, maar wil ook padveiligheid bevorder. “Caledon is die hoofdeurgang na ander dorpe in die Overberg-distrik en dis vir ons ’n eer om besoekers in ons mooi omgewing te verwelkom. Ons wil hulle ook verseker dat ons ’n beleid van geen verdraagsaamheid teen diegene gaan volg wat nie by die padreëls hou nie,” het Hendricks gesê. Dié bewusmakingsveldtog word oor die hele Theewaterskloof-munisipale gebied gehou. Romeo Hendricks (links) is hier saam met Martin en Janneke Schreder van Gordonsbaai wat op pad was na Gansbaai. Sonja Maree (BBM), Neal van Wyk (verkeersafdeling), Lizël Kimber (BBM) en Jenny Swartz (wetstoepassing) het ook die padgebruikers verwelkom. Foto: Mitzi Buys


Vakansiegangers in die Overberg welkom geheet

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article