Die uittredende voorsitter van die Lighthouse 2 Lighthouse, Michele Serfontein.


Sy het nog altyd daarvan gehou om met vroue te werk, om hulle op te hef en te help om ’n indruk op en ’n verskil in die samelewing te maak.

“Ek is lief daarvoor om met vroue te werk. Ek het nog altyd deur my korporatiewe loopbaan in Johannesburg met vroue gewerk – gewone vroue wat die buitengewone doen.” Só vertel Michele Serfontein, die uittredende voorsitter van die Lighthouse 2 Lighthouse Ladies (L2L).

Michele se tyd as voorsitter was vir haar ’n hoogtepunt en ’n tyd waarin sy baie van haarself en van vrouwees geleer het. “Wat ek met L2L gevind het, was dat dit ’n geleentheid is waar ’n klomp vroue bymekaarkom en die buitengewone vermag – om miljoene vir liefdadigheidsorganisasies in te samel, sit nie in almal se broek nie.”

Sy vertel dit was vir haar as voorsitter lekker om te sien hoe die vroue groei.

“Dit is nie altyd maklik om ’n groep sterk vroue te lei nie – party is leiers op hul eie gebied en ander groei as hulle deel van L2L word.”

Hoe Michele by die klomp dinamiese vroue betrokke geraak het, was danksy haar man, Gideon. “Ek en my man het die Ocean Basket in Hermanus in 2017 oorgeneem. Dit was nie lank nie of Gideon vertel my van die inspirerende vrou Les Clark, aan wie hy my graag wil voorstel. “Les was op 80 die oudste stapper van L2L, en na ek haar ontmoet het, het sy my gevra of hulle nie ’n L2L-geselligheid hier kan aanbied nie.”

Volgens Michele het sy by dié geleentheid baie van die organisasie geleer en dadelik besluit sy wil deel daarvan wees en haar dienste as digitale koördineerder aangebied.

“Omdat ek in my korporatiewe loopbaan baie met die digitale kant van die besigheid gewerk het, het ek nie geskroom om my dienste aan te bied nie. En soos hulle sê, die res is geskiedenis . . .”

Wat vir haar die lekkerste is om deel van die L2L-vroue en -staptogte te wees, is om die vroue beter te leer ken. “Om saam met iemand te stap, is anders as om saam met iemand te draf. Jy kommunikeer beter met iemand as jy saam met hulle stap. Daar is definitief ’n dieper verbintenis en dit is wat ek die meeste van L2L geniet.”

Sy sal nooit die stof van L2L van haar kan afskud nie en sien daarna uit om steeds by die groep vroue betrokke te wees. “As jy eers een keer by die groep betrokke is, gaan jy dit nie maklik vergeet nie. Ek sien uit na my nuwe rol as net ’n lid.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article