Petra en Willie Landman van Glamorous Diva saam met Stephanie Reith (middel).Foto’s: Mariette Strydom


Haar skilderye spreek tot jou hart en jy kan haar liefde vir Afrika in haar skilderye sien.

Die Afrika-bloed vloei sterk deur die are van die kunstenaar Stephanie Reith van Botrivier. Dié boorling van Oos-Afrika is die dogter van ’n spoorwegwerker en deur haar pa kon die Reith-gesin die hele Afrika deurkruis – van Tanganyika tot Dodoma, Dar-es-Salaam en Tanga.

“Ons het later na Kenia verhuis en daar het ek by die Kenya Art Society College aangesluit. Ek onthou my pa het my altyd Twiga – Swahili vir kameelperd – genoem,” vertel Stephanie.

Sy sê die kunstenaar en kunsonderwyser Dora Betts het haar geïnspireer. “Dit was Dora wat my belangstelling in lewendige skilderye aangewakker het – sy was die een wat modelle met kleurryke lappe bedek en die kamer se lig só aangepas het dat dit mooi op ’n doek sal lyk.”

Sy dink met heimwee terug na haar grootwordjare in Afrika en vertel hoe sy as 12-jarige meisie ’n dubbelganger in die fliek Bush Baby was.

“MGM het Bush Baby in Kenia verfilm, met die akteur Donald Houston in die hoofrol. Ek het baie soos die jong Margaret Brooks gelyk en is toe gevra om haar dubbelganger te wees. Daardeur het ek die geleentheid gekry om die meeste van die natuurreservate, soos Lake Manuara, die Ngorogoro-krater en die Serengeti, te sien.”

In 1975 het die winde van veranderinge letterlik vir die gesin gewaai en hulle moes na die destydse Rhodesië (Zimbabwe) verhuis.

“Dit was maar ’n aanpassing vir ons almal; ons was letterlik op soek na mense wat Swahili kon praat. En dan was dit ook die oorlog wat gedreig het – ’n stormagtige tyd vir ons almal.”

Sy vertel hartseer hoe haar pa ’n vrou wou help wat deur soldate aangehou is en toe in die maag geskiet is.

“Hy het ses weke ná die voorval aan sy wonde beswyk en sy moordenaar is tot die dood veroordeel.”

Ten spyte van die hartseer wat sy al ervaar het, sal sy Afrika nooit prysgee nie.

“Daar is baie vrae oor Afrika – veral as jy wit is. Ek stel gereeld die vrae: Hoe stabiel is Afrika? Al is ek hier gebore, sal Afrika sy rug op my keer? Maar ek sal nie my rug op Afrika keer nie. Ek is lief vir die vasteland en al haar pragstukke wat God aan haar gegee het. Ek het ook al baie woestyn-tye in Afrika beleef, maar God is getrou en ek gee Hom al die eer vir my talente.”

In haar skilderye wil sy graag die Afrika-tyd laat stilstaan en haar liefde vir die vasteland met ander deel.

“Ek is lief daarvoor om Afrika met ander kunsliefhebbers te deel en ek is gelukkig in Botrivier, hier waar ek nou is. Hier gee ek ook kunsklasse aan mense wat belangstel om dit waarvoor ek so lief is, te deel,” sê sy.

Besoek Stephanie se Facebookblad by Art by Stephanie Reith vir foto’s van haar kunswerke.. Stephanie se kunswerke is te sien by Glamorous Diva, die nuwe winkel by die Orchard-padstal. Die winkel pronk met die mooiste unieke klere vir vroue, juwele, leergoedere, Sh’zen-produkte en ander mooi huishoudelike produkte soos kerse.

Volgens die eienaars van die winkel, Willie en Petra Landman, bied hulle iets vir almal en is dit veral die klere wat mense lok.

“Ons klere is uniek en gemaak om almal – oud en jonk – te pas. Ons nooi almal wat verby die Orchard-padstal by Grabouw ry om hier te stop, ’n koppie koffie te geniet en deur ons winkel te stap. Ons waarborg dat jy iets sal kry waarvan jy hou, of dit nou klere is of ’n geskenk,” sê hulle.

Die winkel is daagliks van 10:00 tot 17:00 oop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article