Die Theewaterskloof-belastingbetalers het tot Donderdag om die versoek van die munisipaliteit teen te staan.


Dit blyk uit ’n onlangse kennisgewing wat Theewaterskloof-munisipaliteit uitgereik het dat die munisipaliteit in geldelike nood is, en die belastingbetalers sien rooi, of soos een inwoner tereg opmerk: “hulle tap nou bloed uit ’n klip”.

Die TWK het verlede week op sy Facebookblad die voorgestelde verhoging rakende munisipale dienste bekendgestel. “Weens die onvoorspelbare ekonomiese klimaat en veranderende rentekoerse is dit ’n prioriteit vir die munisipaliteit om te verseker dat ons, ons eie gebeurlikheidsplanne [instel] om besigheidskontinuïteit en dienslewering te verseker. Ons wil dus ’n kapitaal- heffingvervangingsverhoging voorstel en instel, wat gebruik sal word as finansiering vir die vervanging van verouderende infrastruktuur en ander diensleweringsbehoeftes, in plaas daarvan om op provinsiale en nasionale finansiering sowel as lenings staat te maak,” het die skrywe gelui.

Volgens die TWK kan hulle nie staatmaak op die betroubaarheid van die provinsiale en nasionale finansiering nie en wil hulle graag selfonderhoudend wees en planne beraam wanneer dit by die vervanging van infrastruktuur kom.

Hul voorstel volgens die skrywe is: “Tans word ons dienste gehef teen tariewe van 15,1% vir elektrisiteit, 6% vir riool en vullis en 9% vir waterdienste. Benewens hierdie tariewe wil ons graag ’n kapitaal- vervangingsheffing van R5 per diens, per maand instel. ’n Huishouding wat van al vier dienste gebruik maak, sal ’n maksimum van R20 ekstra per maand vir hul munisipale rekening betaal.”

Hierdie voorgestelde bykomende heffing het nie positiewe reaksie van belastingbetalers ontvang nie en inwoners het hul monde daaroor op Facebook uitgespoel.

Een Facebookgebruiker het gesê dit lyk of die raad se geldsake nie reg bestuur word nie, terwyl ’n ander een sê die geld is op luukshede soos motors en lyfwagte bestee.

Met Hermanus Times se besoek aan ’n woonbuurt in Grabouw het die inwoners hul misnoeë uitgespreek en gesê die belastingbetalers in die dorp wat die salarisse van die munisipale amptenare moet betaal, trek aan die kortste ent. “Wat van al die uitlanders en die mense van ander provinsies wat net hier kom en grond gryp, ’n struktuur opsit, elektrisiteit steel en niks bydra tot die welstand van die munisipaliteit nie? Waarom kan die munisipaliteit nie daar fokus en daardie mense belas nie?” het ’n inwoner van Pineview gesê.

’n Ander inwoner het voorgestel ’n interne oudit moet by die munisipaliteit gedoen word om te kyk waar die geld heen verdwyn. “Hulle het links en regs geld uitgegee vir lyfwagte, ’n duur liggiefees in Caledon, ’n talentkompetisie in Grabouw en nog ander. Ek wil weet wat hulle gaan maak as Knoflokskraal-inwoners ook munisipale dienste gaan eis. Die TWK moet mense na die streek lok wat kan bydra tot die welstand van die streek en nie net stemme probeer werf nie.”

Volgens die TWK is hierdie voorgestelde bykomende heffing oop vir openbare deelname en kommentaar en sal dit as deel van die finale begroting aan die raad voorgelê word. . Die publiek word genooi om hul insette oor hierdie bykomende heffing tot 09:00 Vrydag 19 Mei na twkmun@twk.gov.za te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article