Die Speaker en die onderburgemeester van die TWK, Derick Appel en Johan Michels, tydens hul besoek aan Frankryk.


Menige inwoner en politieke leier het sy wenkbroue gelig toe twee amptenare van die Theewaterskloof-munisipaliteit die Wêreldbekerrugby verlede jaar in Frankryk bygewoon het.

Die Speaker, Derick Appel, en die onderburgemeester, Johan Michels, is deur DA-politici van wanadministrasie, korrupsie, bedrog en wanpraktyke beskuldig.

Nadat die vermeende ongerymdhede aan die lig gekom het, het die munisipale bestuurder van die TWK, Wilfred Solomons-Johannes, ’n brief aan Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, gerig waarin hy gemeld het dat Appel en Michels die gebeurtenis in hul persoonlike hoedanigheid bygewoon het en “aangesien dit nie ’n amptelike reis was nie, hoef dit nie voor die munisipale raad te dien nie.

“Die munisipaliteit was geensins betrokke by die logistieke reëlings rakende die reis nie en het geen uitgawes aangegaan nie,” het Solomons-Johannes gesê.

Hy het verder aangevoer dat die munisipaliteit ook nie van plan was om enige ondersoek na die reis van stapel te stuur nie.

Op 10 Junie het Bredell na deeglike ondersoek die twee onskuldig bevind op die klagtes wat die DA aanhangig gemaak het.

“Na aanleiding van ’n objektiewe assessering wat deur myself en amptenare van die departement van plaaslike regering gedoen is, het ons bevind dat daar onvoldoende bewyse van bedrog, korrupsie, ernstige wanpraktyke of wanadministrasie teen die twee raadslede is wat die Wêreldbekerrugby-byeenkoms in Frankryk bygewoon het,” het Bredell Maandag (10 Junie) in ’n skrywe gesê. “Gevolglik beskou ek die saak as afgehandel.”

Een van die beskuldigdes, Michels, het die minister se bevindinge verwelkom, maar sê ook die aantygings en dié wat die aantygings gemaak het, moet die gevolge dra. “Die tyd toe die DA aan bewind was, is verskeie toere na Swede en ander plekke gedoen. Die DA moet nou die regte ding doen en tugstappe teen die DA-lid Isaac Sileku, wat die aantygings gemaak het, neem,” het Michels gesê.

Volgens Appel moes die munisipaliteit en die koalisieregering hom teen die gemeenskap en die media verdedig nadat die aantygings aan die lig gekom het. “Die aantygings het leed aan my en my familie gedoen en ek hoop dat dié wat ons so op sosiale media gekruisig het, dit sal regstel,” het Appel gesê.

Die burgemeester, Mary Liebenberg, het ook haar misnoeë oor die aangeleentheid uitgespreek. “Ek hoop dat die DA ’n openbare verskoning sal uitreik en dat teen die DA-lede opgetree gaan word wat die vals aantygings gemaak het,” het sy in ’n persverklaring gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article