Verlede week was dit die brande wat in die Theewaterskloof-munisipale gebied gewoed het wat menige inwoner en munisipale amptenaar op hul hoede gehad het, en die week is dit weer vloede.
Die naweek het die ingenieur- en rampbestuurspanne onverpoos gewerk om die chaos, wat die reën van Vrydag veroorsaak het, op te ruim. “Die vloede het chaos veral in Caledon veroorsaak. Erosie, skade aan paaie en ander infrastrukture was aan die orde van die dag. Verder het die munisipaliteit ook sandsakke aan inwoners uitgedeel om verdere skade te voorkom. Ons bedank ook die spanne wat alles ingesit het om dinge weer normaal te kry,” het TWK gesê.
Intussen het die leiers van die TWK-munisipaliteit en die bestuur van die Nederlandse waterraad gister vergader om die Blue Deal-projekte van stapel te stuur. TWK is die nuutste munisipaliteit wat deel is van die nasionale regering se ooreenkoms met die Nederlandse owerhede.
“Die ooreenkoms tussen die departement van water en sanitasie en die Nederlandse waterraad staan bekend as die Blue Deal-projekte – die projek se doel is om genoeg, skoon en veilige water aan almal teen 2030 te lewer,” het Boy Manqoba Ngubo, munisipale bestuurder gesê. “As ’n munisipaliteit verbind ons, ons daartoe om skoon en genoegsame water vir almal in ons munisipale gebied te gee en is ons baie opgewonde oor die nuwe vennootskap. Verlede week het ons ’n gemeenskapsbetrokkenheid-inisiatief in Villiersdorp en Grabouw gehou en gister het ons die grondslag gelê om die program te implementeer.”





