‘n Bewusmakingsveldtog is van stapel gestuur in die Theewaterskloof-munisipaliteit om padgebruikers oor die omgewing in te lig en ook om wetgewing toe te pas.

Mitzi Buys

“Die Theewaterskloof-munisipaliteit is gereed vir die Paasvakansie.”

Dit was die boodskap van die TWK se munisipale bestuurder, Boy Manqoba Ngubo.

Volgens hom is die Paasvakansie ‘n baie besige tyd van die jaar en is die verkeersdepartement reg vir die toename van voertuie op die pad. “Die Overberg is ‘n deurgang vir menige vakansieganger om by hul eindbestemming uit te kom,” het hy verduidelik.

Hy vertel verder dat die belangrike tyd ook ‘n ekonomiese inspuiting vir die omgewing is en dat inwoners en sake-eienaars daarna uitsien om die toeriste te verwelkom. “Paastyd is ‘n baie belangrike tyd vir menige in ons land, maar dis ook ‘n tyd waar meer padsterftes voorkom. Daarom wil ons vir die padgebruikers en voetgangers vra om ekstra versigtig die tyd van die jaar te wees, moenie drink en bestuur nie en hou by die wetgewing,” het Ngubo gemaan. 

Al die afdelings, hetsy verkeer, die polisie en brand- en reddingsdienste is gereed om diens te doen. Daar gaan ook ‘n groot bewusmakingsveldtog op die paaie wees om mense meer inligting te gee oor die omgewing en wetgewing. Volgens hom gaan hulle ook ‘n beleid van geen verdraagsaamheid handhaaf as dit by alkohol kom. 

“Ons wil graag almal ‘n lekker Paastyd toewens en enigeen is welkom om die tolvrye nommer by 080 021 4730 te skakel in geval van nood,” het hy afgesluit. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article