’n Bewusmakingsveldtog teen middelmisbruik- en verslawing is onlangs in Uitsig, Caledon, gehou.Foto: Mitzi Buys


Internasionale dag teen dwelmmisbruik en handel in onwettige middels op 26 Junie is deur die Verenigde Nasies geskep om bewusmaking oor die vernietigende uitwerking van dwelms en dwelmhandel op mense en gemeenskappe te skep.

“Respek en empatie” was die tema vir hierdie jaar se bewusmakingsdag, met die fokus op mense wat sekere middels misbruik.

Verskeie rolspelers wat deel is van die Theewaterskloof-munisipaliteit se Local Drug Action Committee (TWK LDAC) het in Junie twee bewusmakingsdae in die gemeenskappe in Caledon en Villiersdorp gehou, waar hulle in deur-tot-deur-veldtogte met gemeenskapslede gepraat het en inligtingspamflette oor alle dienste beskikbaar vir middelverslaafdes, asook ondersteuning vir familie of vriende van verslaafdes, uitgedeel het. Die regering, plaaslike regering, organisasies sonder winsbejag, kerke, die polisie en vrywilligers het aan die veldtogte deelgeneem. Meer as 300 mense is in die twee veldtogte bereik.

Pastoor George Rhode van Caledon sê: “Ons het ’n baie groot probleem met dwelm- en drankmisbruik in ons gemeenskappe. Ons sien hoe dit jong mense en gesinne vernietig en daarom wil ons mense in hierdie bewusmakings­veldtogte vertel dat daar ’n oplossing is, dat hulle hul lewe kán verander.”

Op die dwelmmisbruik-bewusmakings­dag is ’n geleentheid in Caledon gehou waar verskeie sprekers gemeenskapslede toegespreek en gemotiveer het. Onder die sprekers was drie jong manne wat hul stories gedeel het oor die tyd toe hulle in dwelmverslawing vasgevang was. Dit was emosionele maar tog ook hoopvolle stories, want hulle het nou sober gewoontes aangeleer en is gereed om weer by die gemeenskap in te skakel, maar hulle moes self die eerste stap neem om te erken dat hulle ’n probleem het en die beskikbare hulp daarvoor aanvaar.

Die TWK LDAC moedig mense wat hulp benodig, aan om uit te reik en kontak te maak met hul plaaslike kliniek, maatskaplike dienste, kerke of munisipale kantoor. Alle dienste word gratis aangebied en geld ook vir familielede of vriende van gebruikers wat steun nodig het.. Indien u hulp benodig, skakel Badisa Caledon by 028 212 1605 of maatskaplike ontwikkeling by 0800 220 250.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article