Die nuutverkose speaker John Michels en die nuwe burgemeester van TWK, Lincoln de Bruyn.Foto: Mitzi Buys


Dat die Theewaterskloof-munisipaliteit se koalisieboot al geruime tyd in stormagtige waters rondgedobber het, is geen geheim nie. Inwoners van TWK is veral keelvol vir die gebrek aan dienslewering en die ondeursigtige besteding van munisipale geld.

Maar die winde van verandering het gewaai en ’n nuwe koalisie tussen die Demokratiese Alliansie (DA), GOOD en die Socialist Revolutionary Workers Party (SRWP) is gevorm.

Op ’n spesiale raadsvergadering op 14 Augustus is ’n geslaagde mosie van wantroue teen die burgemeester, die raadsheer Mary Liebenberg, en die speaker, die raadsheer Derick Appel, gebring, met die gevolg dat dié twee poste gevul moes word.

Die burgemeesterskandidate was die raadshere Lincoln de Bruyn (DA) en Mary Liebenberg (PA). De Bruyn het 14 stemme op hom verenig teenoor Liebenberg se 11 stemme. Twee raadslede het buite stemming gebly. Appel, wat toe nog in die speaker-stoel gesit het, het aangekondig dat De Bruyn as tussentydse uitvoerende burgemeester aangestel is totdat sy aanstelling op ’n spesiale raadsvergadering op 22 Augustus bekragtig word.

Die raadsheer John Michels van die GOOD-party, voorheen die onderburgemeester, is as speaker verkies, met 15 stemme teenoor Appel se 12 stemme.

Op ’n spesiale raadsvergadering op 16 Augustus is die raadslid Stanley Shuma van GOOD as uitvoerende onderburgemeester verkies. Shuma het 15 stemme op hom verenig teenoor die 11 stemme vir die raadslid Theunis Zimmerman van die VF+. Shuma is ’n voormalige burgemeester van Grabouw.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article