Die gemeenskap van Theewaterskloof (TWK) is Sondagog­gend in rou gedompel nadat hulle die nuus van die afsterwe van hul geliefde burgemeester, Kallie Papier, gehoor het.

Oom Kallie, soos hy alombekend gestaan het, is ná ’n lang stryd aan kanker oorlede. Hy is verlede week in die hospitaal opgeneem en is Sondagoggend oorlede nadat komplikasies voorgekom het.

Hy was nie net geliefd onder die inwoners van die TWK nie, maar het selfs respek by opposisiepartye afgedwing.

Oom Kallie was oorspronk­lik van Malmesbury en het in 1981 by Korrektiewe Dienste begin werk. Hy het in 1983 na Caledon verhuis en tot 2005 by die Helderstroom-gevangenis gewerk.

Sy belangstelling in die politiek het begin toe hy die plaaslike asook die Boland- voorsitter van die vakbond Popcru (Police and Prisons Civil Rights Union) was. In 2009 het hy by die destydse Independent Democrats betrokke geraak en daarna by die DA. In 2011 is hy as raadslid vir wyk 3 vir die DA verkies. Aangesien hy langer as 10 jaar in die plaaslike raad gedien het, het hy raadsheer geword.

Hy was ook onderburgemeester voordat hy as burgemeester verkies is.

Die waarnemende burgemeester, John Michels, het in ’n verklaring gesê: “Kallie Papier het in lewe alles wat goed is in die Theewaterskloof versinnebeeld en sal vir altyd een van Caledon en die Theewaterskloof se heel grootste ‘seuns’ bly.”

Oom Kallie se liefde vir sy gemeenskap strek verder as sy amp, en nie net het jy hom gereeld langs die rugbyveld gesien terwyl spanne van die TWK mekaar pak nie, maar verlede jaar was hy ook op die toneel van die brand in Grabouw, wat talle dakloos gelaat het.

“Hy het nooit van sy mense weggedraai nie en het in elke krisis oplossings gevind om die swaarkry van inwoners te verlig. Hy was in soveel opsigte ’n ‘geneser van mense’,” het Michels gesê. “Al wat ek nou weet, is dat Kallie se nalatenskap ongeëwenaard is en dat dit oor baie trane en gesprekke bespreek en oor besin sal word. ’n Merkwaardige mens en vriend is dood.”

Die speaker van die TWK, Derick Appel, het ook in ’n verklaring gesê hulle almal het gehoop dat oom Kallie die terugslag sal oorkom en terugkeer na sy amp soos wat hy voorheen al gedoen het.

“Dit is vir my moeilik om vrede te maak met die tragedie wat die streek getref het, veral as jy in ag neem hoe oom Kallie met die inwoners van die TWK omgegaan het. Hy het nooit sy rug op die armste van die armstes gedraai nie, en al het hy teen kanker geveg, het hy altyd sy beste gelewer,” het Appel gesê. “Rus in vrede, Soldaat; Hamba Kahle, Grootman.”

Oom Kallie se warm persoonlikheid het hom geliefd onder baie gemaak en selfs die leier van die PA, Gayton Mckenzie, het dadelik na Kaapstad gegaan nadat hy gehoor het dat Papier in die hospitaal opgeneem is. “Daar was ’n groot konsternasie toe ek die saal besoek het waar hy opgeneem is. Die verpleegpersoneel wou dadelik by my weet wie ek gaan besoek en wat ons verbintenis met mekaar is. Dis nou presies wie Kallie was – hy is daar opgeneem, maar het nie een keer sy titel gebruik nie. Hy was nog altyd ongemaklik oor sy titel,” het Mckenzie op Facebook gesê.

Volgens Mckenzie het oom Kallie nooit ’n woord gerep oor sy siekte nie en was die belange van sy inwoners altyd eerste op sy lys. “Hy het harder gewerk as van die jonger en gesonde raadslede en het ’n spesiale plek in my hart gehad.

“Ek onthou sedert die dag toe hy deel van die party geword het, het hy ons nooit in die verleentheid gebring nie en hy het nooit op sy woord teruggegaan nie. Hy het gehelp om die party te bou. ‘Ons skuld jou alles en meer, Kallie Papier . . .’,” het Mckenzie gesê.

Oom Kallie laat sy vrou, Vanessa, hul kinders Daniël, Michelle en Peter-John Papier, Althea Phillips en Caroline Papier asook 10 kleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article