Die inwoners van die Overberg het met hul hande in hul hare gesit na oorstromings hulle weer getref het.


Elke foto vertel ’n storie, en dit is nie altyd ’n mooi storie nie.

Overstrand vloed

Die inwoners van die Overberg het met hul hande in hul hare gesit na oorstromings hulle weer getref het.

Ná die rampspoedige storm van 25 September, wat enorme skade in die Wes-Kaap en veral die Overberg aangerig het, is dit haas ondenkbaar dat ’n tweede storm dié gebied minder as twee weke later weer sou tref, maar dit is presies wat Vrydag 6 en Saterdag 7 Oktober gebeur het toe groot hoeveelhede reën in veral Caledon en Myddleton uitgesak het.

Baie inwoners wat ná die eerste storm nog besig was met opruimingswerk, sê hierdie storm was op plekke selfs erger en het groter skade aangerig.

Hermanus Times het gaan kyk hoe lyk dit in Amandel en Wateruintjieskuil, twee kleinhoewes aan die buitewyke van Caledon. Die Badrivier, wat aan die onderkant van Thinus en Liesel Kershoff se eiendom verbyvloei, het nie oorstroom nie, maar bloot ’n heeltemal ander loop geneem – met katastrofiese gevolge. Berge sand het orals uitgespoel, omtrent 12 groot vragmotors van die LM-vervoermaatskappy is in die modder vasgevang en ’n skeepsvraghouer wat meer as 2 000 kg weeg, het 100 meter van waar hy gestaan het, te lande gekom.

Die woonhuis is nie beskadig nie, maar die skade aan die res van die eiendom is onbeskryflik erg.

Myddleton net buite Caledon het ook groot skade gely met oorstromings wat dele van strate weggekalwe het. Colin Scheepers, ’n inwoner van Myddleton, sê: “Dit is kommerwekkend en dit lyk asof die munisipaliteit geensins omgee vir die gemeenskap van Myddleton nie. Dit is die tweede storm in twee weke, en hierdie een was erger as voorheen.

“Die brûe is te laag. Wat as hulle ingee? Dan is die gemeenskap afgesny. Selfs die voetbruggie lê in die water.” 

“Die munisipaliteit moet die rivier skoonmaak, die bome en stompe afsny. Die munisipaliteit doen niks om ou bome af te sny nie, dit groei net. Dalk moet daar eers ’n lewensverlies voorkom voordat hulle reageer,” sê Scheepers.

Kuilstraat in Caledon het Vrydag en Saterdag soos ’n rivier gelyk en teen Sondag was die waterskade, wat ook hierdie keer baie erger was, duidelik sigbaar met heinings wat weggespoel het en selfs ’n groot staalhek wat uit die muur geruk en heeltemal gebuig is.

Van die inwoners is ook weer eens uit hul huise ontruim.

Heleen Fourie van die plaas Voorhoede net anderkant Myddleton sê ook hierdie keer was dit baie erger.

“Die weerwaarskuwing was dié keer slegs ’n vlak twee [teenoor die vlak 9-waarskuwing die vorige keer], maar baie meer water het in ’n korter tydperk gevloei.”

Ook by hulle het die rivier sy eie nuwe loop geneem en selfs groot, ou akkerbome ontwortel.

“Ons het groot verlies gely en baie skape is dood, en dit terwyl ons nog geensins van die vorige skade herstel het nie. Die nagevolge sal nog baie lank voortduur,” sê sy.

Heleen noem teen Vrydag 02:00 het die water loshande oor die syversperrings van die N2 gevloei. “Ons het nie geweet of daar nog ’n pad onder die water is nie en my man-hulle het toe om veiligheidsredes voertuie daar laat stop. Ons het die polisie geskakel en hulle het vir die res van die nag daar gewaak,” sê Heleen.

Ter afsluiting sê sy: “Hoewel ons groot finansiële skade opgedoen het, het ek vir my man, Barendo, gesê ons het so baie om voor dankbaar te wees. Ons as familie het mekaar, ons het ons lewens en ons is gesond.”

In Riviersonderend en Genadendal lyk dit ook nie beter nie.

Paaie is verspoel en toegemaak en inwoners het weer soos verlede week almal ingespring om mekaar by te staan, huise skoon te maak en verkeer te herlei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article