GRABOUW — Twee van die drie mans wat verlede Dinsdag (7 Oktober) glo ‘n drankwinkel in Grabouw met vuurwapens beroof het, sal Donderdag (16 Oktober) weer in die plaaslike landdroshof verskyn. Die Grabouw-polisie sê ‘n derde verdagte is steeds op vrye voet.
Volgens kol. Winston Coetzee, bevelvoerder van die Grabouw-polisiekantoor, is die polisie omtreeks 18:50 verlede Dinsdag na die Forest Kraaltjie-drankwinkel in Rykestraat in die Grabouwse middedorp ontbied.
“Na wat beweer word het drie onbekende gewapende mans die winkel binnegestorm en die personeel gedreig. Die rowers het geld uit die kasregister gehaal voordat hulle te voet vanaf die toneel gevlug het. Die polisie kon daarin slaag om twee van die rowers aan te keer. Hulle is op aanklagte van besigheidsroof in hegtenis geneem en het hul eerste verskyning in die Grabouw-landdroshof op 10 Oktober gemaak,” het Coetzee gesê.
Niemand is tydens die rooftog beseer nie. Die twee verdagtes bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op Donderdag (16 Oktober). Die polisie vra dat enigiemand met inligting oor die voorval die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, skakel.



