Pieter Janse van Rensburg, beter bekend as Piet Makwas, is ’n bekende en geliefde omroeper by Radio Overberg, wat in sy program Boeretroos sy liefde vir en wye kennis van boeremusiek met die luisteraars deel.
Om ’n goeie omroeper te wees, moet ’n mens nie net voldoende kennis van jou gekose onderwerp hê nie, maar jy moet ook met ’n goed-gemoduleerde stem en vir lang tye op ’n keer kan praat, en daarmee gepaard gaan natuurlik ook goeie asemhaling.
Tydens ’n onlangse telefoniese onderhoud met Hermanus Times was dit duidelik dat Piet Makwas met sy asemhaling sukkel en sukkel om te praat – alles weens nasale poliepe. Piet ly ook aan rumatiese artritis en is ’n diabeet.
Sulke outo-immuunsiektes is geneig om verskeie ander sindrome te veroorsaak.
Piet sê: “My neus is heeltemal geblok en dit veroorsaak dat ek moeilik asemhaal, en my mond is heeltyd droog. Ek was wel ’n tyd gelede by die Tygerberg-hospitaal waar hulle die poliepe tydens ’n operasie sou verwyder, maar toe hulle verskeie probleme met my hart en bloeddruk vind, wou hulle nie die risiko onderneem om te opereer nie. Ongeag die feit dat hulle nie kon opereer nie, is ek baie tevrede met die mediese dienste van die staat. Ek kry ook by die Bredasdorp-kliniek altyd uitmuntende diens.”
Piet Makwas, wat dié bynaam jare gelede tydens sy weermagopleiding gekry het omdat hy oorspronklik van Makwassie af kom, neem tans sy programme in sy huisateljee in Bredasdorp op. Op ’n vraag oor hoekom hy kaalvoet in sy ateljee sit, antwoord hy: “Ek kan nie skoene dra nie. Ek kan nie eens sokkies dra nie. Alles maak my voete seer. Spesiale sokkies vir diabete is wel beskikbaar, maar ek kan dit nie bekostig nie, dus loop ek maar heeltyd kaalvoet. Ek gaan nêrens heen nie. Dis al amper drie jaar wat ek so in selfopgelegde kwarantyn lewe.”
Die poliepe kan onder plaaslike verdowing deur ’n oor-, neus- en keel-spesialis in ’n spreekkamer verwyder word. Piet Makwas het egter nie ’n mediese fonds nie en kan dus nie dié spesialisbehandeling bekostig nie. Van sy kollegas het dus ’n aanlyn BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur. “Ek is hulle ewig dankbaar dat my kollegas en vriende bereid is om my te help om hierdie geld in te samel. Ek leef in genade en dankbaarheid,” sê Piet.. Indien enigiemand bydrae wil lewer, gaan na: https://www.backabuddy.co.za/pieter-janse-van-rensburg-5514985545321561810





