Vir tieners tussen die ouderdom van 13 en 19 is dit ’n tyd van baie eerstes en ’n tyd van verandering. As jy ’n tiener is, is dit die begin van nuwe vriendskappe en ervarings; jy kan dalk nuwe geleenthede aanpak en meer vryheid hê om keuses vir jou toekoms te maak.

Maar jongmense kan ook uitdagings in die gesig staar. Hierdie struikelblokke kan insluit afknouery, lae selfbeeld of ’n gesukkel om moeilike emosies, gesinslewe, vriende en selfversorging die hoof te bied.

Dit is van kritieke belang om gesonde maniere te vind om hierdie veranderings en uitdagings te navigeer.

Tussen 14 en 21 Februarie is op tienerselfdood gefokus, en almal is herinner aan die belangrikheid van geestelike welstand in ons jongmense.

Wêreldwye navorsing dui daarop dat die aanmoediging en beoefening van welstand in hul tienerjare jongmense kan help om te floreer en die gehalte van hul lewe te verbeter.

“Om met kinders of adolessente oor geestesgesondheidsuitdagings te praat, kan ongemaklik wees en dit is noodsaaklik om gereeld gesprekke met hulle te hê oor geestesgesondheid, hul uitdagings en hul algehele welstand,” sê Zelah Dodgen, ’n gesondheids- en welstandberader, wat veral met jongmense werk.

Zelah beklemtoon die belangrikheid van voorkomende maatreëls, soos om ’n gesonde lewe te lei en te luister na jongmense se griewe en sodoende hul welstand te beskerm.

“Geen individu is bestand teen die lewe nie. Dit is waarom aandagtig na jongmense en adolessente geluister moet word. Geestesgesondheidsuitdagings is niks om oor skaam te wees nie.”

Wenke om tieners se geestelike, emosionele en fisieke welstand te verbeter:. Kry toegang tot ondersteuning soos die aanlyn platform B-wise by www.bwisehealth.com. . LoveLife by 083 323 1023 gee ook inligting en raad oor tienerbekommernisse.. Wanneer boeliegedrag betrokke is, kan slagoffers die Wes-Kaapse onderwysdepartement se Veilige Skole-blitslyn by 0800 45 46 47 skakel. Andersins kan jy ook met ’n onderwyser, ’n geestelike leier of die personeel van die plaaslike kliniek gesels. . Kry maniere om van jou angstigheid en stres ontslae te raak. Daar is verskeie maniere hoe jy van jou stres ontslae kan raak, soos asemhalingsoefeninge, om ’n dagboek te hou, musiek te luister of te speel, oefeninge, gesonde eetgewoontes, gesonde slaappatrone en goeie tydsbestuur. . Stel grense soos om nee te sê vir dinge wat nie goed is vir jou nie. . Die verantwoordelike gebruik van sosiale media: Sosiale media hou baie voordele in, maar kan ook baie skadelik wees. Onthou dat jy plasings wat skadelik is by die platform en die polisie kan rapporteer. Vra eerder iemand om jou daarmee te help as jy nie vertroud is met die stappe nie. Dit is ook belangrik om nie vals inligting oor ander en fopnuus te versprei nie.. Vriende: Elke ouer hoop dat hul kinders goeie vriende sal hê en ’n goeie vriend vir ander sal wees. Hoewel jongmense hul vriende kies, kan ouers oop kommunikasie oor vriendskappe aanmoedig en dit as ’n geleentheid gebruik om jongmense te lei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article