Tannie Maureen van Rensburg, ‘n inwoner van Heidehof Tehuis vir bejaardes in Caledon, het onlangs haar honderdste verjaardag gevier.
Tannie Maureen is in Montagu gebore, waar sy tot standerd drie (graad vyf) skoolgegaan en hulle toe as gesin na Hermanus verhuis het. “My ma het my in standerd agt (graad 10) kollege toe gestuur, waar ek vir drie jaar boekhouding studeer het. Ek het vir ses jaar by ‘n prokureur in Worcester gewerk, maar ná my troue met Johnny Terblanche het ons Ceres toe getrek,” vertel sy.
Johnny is in ‘n motorongeluk oorlede, maar tannie Maureen het vier jaar later met haar tweede man, Phillip van Rensburg, getrou. Sy woon die afgelope nege jaar in Heidehof. “Ek’s nie baie sosiaal nie en doen graag my eie ding. Ek lees baie graag. My seun bring gereeld vir my tydskrifte en ek hou ook van Louis L’Amour se cowboy-boeke. Ek sê vir die Vader elke dag dankie vir my twee seuns,” sê tannie Maureen.
Op ‘n vraag waaraan sy haar lang lewe toeskryf, antwoord tannie Maureen: “Jy’s nie alleen nie. Ander mense kry swaarder as jy. Ek is gesond en eet alles wat op my bord is, maar ek is veral lief vir groente en vrugte. My ma was ‘n baie vasberade en kragtige vrou en ek dink ek het baie van haar eienskappe oorgeneem.”
Oor herwinning voel tannie Maureen baie sterk. “Jy gooi nie sommer ‘n ding weg nie. Ek maak juis breadtags bymekaar vir iemand.”
Tannie Maureen is die enigste oorlewende van sewe kinders. Sy het twee seuns, vier kleinkinders en vier agterkleinkinders. By haar honderdste verjaardagvieringe, wat in Heidehof se sitkamer gehou is met ‘n pragtige koek wat spesiaal deur Caledon Pick n Pay vir haar gebak is, het sy skertsend gesê “die eerste honderd jaar is verby; nou oefen ek vir die tweede honderd jaar!”






