Die Caledon-sypaadjie-verfraaiingsprojek kry groot aftrek en al meer mense neem nou daaraan deel. In hierdie laaste aflewering praat Hermanus Times met nog twee mense wat sypaadjies en openbare grond verfraai om meer uit te vind oor die redes waarom hulle dit doen.
Die stuk grond by die ou taverne in Caledon het regtig vieslik gelyk met rommel wat oral gestrooi was. “Ons huis is reg oorkant en dit het regtig lelik gelyk,” sê Du-Wayne Brikkels, ’n 33-jarige boorling van Caledon.
“Ek het begin skoonmaak en ’n paar plante daar geplant sodat mense nie weer vullis daar kon gooi nie. Ek het die munisipaliteit gevra om die vullis te verwyder, maar hulle het nie, toe maak ek maar ’n plan en bou ’n klipdam om en oor die vullis.”
Alhoewel Brikkels slegs vier maande gelede met die tuin begin het, sê hy hy het baie goeie terugvoer gekry. “Dit is veral die ouer mense wat my bedank. Mense bring vir my plante en dikwels wanneer ek soggens opstaan, kry ek ouer mense wat in die tuin werk. Dit het nou ’n gemeenskapstuin geword.”
’n Outydse skoolbankie wat iemand geskenk het, staan trots in die tuin, net agter ’n oulike klein houtbruggie wat Brikkels gebou het. “Ek werk elke week in die tuin. Ek maak skoon en gee die plante water, maar water is eintlik ’n groot probleem. Ek moet water aandra soontoe. Ek het al oral gevra vir ’n tenk, want dit sal regtig baie help.”
Wanneer Brikkels nie in die tuintjie werk nie, help hy ook ander mense met hul tuine. Toe Hermanus Times met hom gepraat het, was hy juis besig om in sy suster se tuin te werk.
Brikkels noem dat hy op soek is na tuingereedskap. “ ’n Kruiwa, tuinvurke en grawe sal baie help. Dit hoef nie nuut te wees nie. Ek sal dit vreeslik waardeer indien iemand my daarmee kan help.”
In Caledon se middedorp het Sarel Maree ook sowat ’n jaar gelede begin om nie net die sypaadjies voor en langs sy huis te verfraai nie, maar ook sommer dié van sy bure.
“Voor Covid het die munisipaliteit altyd kom klip gooi om van die sigwater ontslae te raak, maar dit het net heeltemal opgehou. Toe besluit ek maar om ’n bietjie tuin te maak en die sypaadjies mooi te maak,” vertel Maree.
Maree het aanvanklik plantjies en sade gekoop, maar noem dat hy nou steggies van baie van die plante maak. “Ek het met twee spekbome en ’n paar gousblomme begin, maar maak nou gereeld steggies daarvan.
“Ek doen dit stap vir stap en toe ek nie meer genoeg plek op my sypaadjie gehad het nie, het ek sommer op die bure se sypaadjie geplant. Dis hoekom ’n mens in die eerste deel kan sien die plante begin al blom, maar nog nie in die nuwer deel nie.”
Wanneer hy in die tuin werk, hou baie mense wat verbyry, stil om hom oor die tuin te komplimenteer. “My oupa en my pa het eers hier gewoon, maar hulle is nou albei oorlede en nou woon ek en my gesin hier. My pa is in Oktober 2021 oorlede en dit was vir my terapeuties om ná sy dood in die tuin te werk. In plaas daarvan om ’n slaansak te slaan, het ek eerder ’n pik en ’n graaf opgetel, en nou het ek darem ook iets mooi om te sien. Ek hoop regtig dit spoor ander mense ook aan om hul sypaadjies te verfraai.”
Carol Mangiagalli, ’n bekende plaaslike kunstenaar, sê: “Ek stap gereeld dorp toe en maak nou ’n punt daarvan om dáár verby te stap om na die mooi sypaadjietuin te kyk.”




