Stephen Wildschut ontspan heerlik in die pragtige sypaadjietuin wat hy oorkant sy huis aangelê het.

Mitzi Buys

Rommelstrooi op veral meentgronde en oop stukke grond het ’n groot probleem in sekere dele van Caledon geword.

Gelukkig het ’n paar inwoners die inisiatief geneem om nie net hul eie sypaadjies nie, maar ook openbare stukke grond, te verfraai deur veral droogtebestande plante soos vetplante te plant.

Hermanus Times het met verskeie mense, wat openbare tuintjies aangelê het, gepraat en sal in die volgende uitgawes meer daaroor berig.

Stephen Wildschut, ’n bekende oudonderwyser, het nie net sy eie sypaadjie voor sy huis in Bergsig verfraai nie, maar ook dié aan die oorkant van sy huis. Hy beoog om binnekort met ’n deel van die nabygeleë meentgrond te begin en selfs ’n “plantbank” op die been te bring.

“As afgetredene wat al jare in hierdie woonbuurt bly, het ek gesien hoe veral die meentgronde in rommelhope ontaard het. Die mensdom is geneig om sy eie werf skoon te maak en dan word tuinvullis met ’n kruiwa aangery en op die meentgrond gestort,” sê Wildschut. “Ek het tot die besef gekom dat die enigste manier om die rommelstrooi te bekamp, is om sypaadjies en meentgronde te verfraai.

“Ek is bekommerd oor Bergsig en Vleiview en vroeg in Januarie het ek die idee gekry om mense op sosiale media te vra om skouer aan die wiel te sit om hul sypaadjies en ons meentgronde te verfraai.”

Wildschut sê: “Jy as mens gaan so trots voel, en dit sal ook as aansporing dien vir ander mense wat verbystap en die mooiheid daarvan sien. Baie mense het ongelukkig die verwagting dat die munisipaliteit die sypaadjies moet skoonmaak, maar ek is so dankbaar dat baie mense in ons gemeenskap in Caledon tóg die visie het om self hul sypaadjie en meentgrond te versier.

“Die doel met die verfraaiing is om ’n omgewingsvriendelike woonbuurt te skep, wat met plante en herwonne materiaal versier word, wat dan ook die bekamping van rommelstrooi aanmoedig. Dit is terselfdertyd ’n opvoedingstaak en waardering van die natuur. Dit is vir my belangrik. Ons kan nie die natuur so binne ons woonbuurte skend nie. Ons moet trots hê. Wanneer ek in my woonbuurt ry of stap, moet my hart bons van trots en ek moet kan sê: “Kyk hoe mooi! Ek sal ook graag wil sien dat al die winkel-, kafee- en huiswinkeleienaars netjiese vullisdromme buite hul winkels plaas om rommelstrooiery te verminder.”

Wildschut sê hy het al vele komplimente ontvang van mense wat verbyry en die verandering sien, en ook dat studente van die kollege dikwels daar foto’s neem. Met Hermanus Times se besoek het ’n groep studente juis daar vertoef en genoem hoe mooi die sypaadjietuin is.

“Dit laat my goed voel en is ’n aansporing,” sê Wildschut.

Wildschut wil graag ’n “plantbank” begin. “Geeneen van ons hoef plante te gaan koop nie. Ons kan plante en steggies uitruil. Ek is bereid om ander met bystand, raad en aanmoediging te help. As almal ’n bietjie inisiatief aan die dag lê, kan ons woonbuurt in hierdie jaar nog pragtig lyk.”

Indien enigiemand plante – veral vetplante en ander droogtebestande plante – vir hierdie projek wil skenk of raad benodig, kan hulle Wildschut by 063 324 2723 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article