AfriForum se Overstrand-tak het onlangs ses waterpeerbome op die sypaadjie in Botrivierweg in Kleinmond geplant. Dié inheemse bome groei vinnig en het ’n penwortelstelsel wat dus enige langtermynskade aan munisipale infrastruktuur behoort te beperk.
Hierdie projek is ondersteun en moontlik gemaak danksy ruim skenkings uit die gemeenskap. Danie Rossouw, ’n plaaslike sakeman, het ’n finansiële bydrae gemaak; Build It het kompos en beenmeel geskenk; die Arabella-landgoed het kompos en strooimis bygedra en Egbert Klapwijk het ’n finansiële bydrae namens sy oorlede ma gemaak.
Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder: Boland, sê: “Hierdie inisiatief is fase 1 van ’n meer omvangryke projek met die doel om die dorp met bome te verfraai. Die AfriForum-tak het reeds toestemming van die Wes-Kaapse distrikspadingenieur ontvang om bome langs die hoofstraat (R44) aan te plant. Fase 2 van die projek sal na verwagting in die eerste helfte van 2025 ’n aanvang neem.”
Diegene wat meer inligting oor hierdie projek verlang of graag ’n bydrae wil lewer, kan Egbert Klapwijk, die beampte vir omgewingsake by AfriForum se Overstrand-tak, by 083 303 0159 bel. Die gemeenskap word ook aangemoedig om by die tak aan te sluit.





