Die Swartberg-span saam met die raadslid Carol de Bruyn en van die plaaslike verkeersbeamptes. Foto: Mitzi Buys


Wanneer die laaste skoolklok van die dag lui en honderde leerders by die skoolhek uitpeul, kan dit nie net chaoties wees nie, maar ook gevaarlik.

Dit is juis om dié rede dat vyf graad 11-leerders van Swartberg Sekondêr in Caledon met ’n voorlegging vorendag gekom het met moontlike oplossings vir die verkeersprobleme, nie net by die skool nie, maar ook in die omliggende gebiede.

Vuyiswa Faye, die hoofpadveiligheidsbeampte vir die Overberg, noem aan Hermanus Times: “Openbare vervoer by skole is ’n groot probleem en ons is besig om hierdie probleme te identifiseer en moontlik reg te stel. Ons het ’n voorbereidende opvoedkundige tegniek-kompetisie van stapel gestuur, waar leerders die probleme moet identifiseer en moontlike oplossings moet vind. Vir die Overberg-distrik het ons Swartberg Sekondêr geïdentifiseer om aan hierdie kompetisie deel te neem,” sê Faye.

Cornel van Wyk, lewensoriëntering-onderwyser by Swartberg, sê: “Vyf van ons top-graad 11-leerders – Keisha King, Chloë Martin, Matthew Arison, Miché Hans en Rozay Lewis – het ’n voorlegging gedoen vir padveiligheidsbemagtiging in die gebied om die skool asook in die omgewing.”

Van Wyk noem die voorlegging sluit die R320- en die R316-paaie in asook Koalisiestraat. “Baie van ons leerders, asook dié van die laerskool, kom uit Riemvasmaak en Uitsig, en moet ’n baie besige en gevaarlike pad oorsteek, waar daar geen voetgangeroorgang is nie. Hierdie projek is nie net ter bevordering van ons skool nie, maar vir die hele gemeenskap.”

Die raadslid Carol de Bruyn, ’n oudleerder van Swartberg, sê: “Vir die eerste keer waarvan ek bewus is, gee die kinders ’n stem aan hul eie geïdentifiseerde behoeftes in ’n gemeenskap. Die kinders word nou as gevolg van hierdie projek, wat my na aan die hart lê, gedwing om met ondersoekende oë te kyk na paaie wat betrekking het op hierdie projek.”

Swartberg was die naaswenners in die kompetisie, wat in Kaapstad gehou is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article